Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

11.10.16

Paleis tuimel inmekaar ná Martini

HANLIE (Swanepoel) VORNBERG skryf: Maureen Swart skryf dat wanneer sy blitsvinnig kyk, die fassade van die Sans Souci hotel haar aan ´n kasteel laat dink (Klik HIER). Na hierdie liefdesbetuiging moes ek terugdink aan die tyd toe ons twee daar gewoon het.

Ons het albei uit ander provinsies gekom om die joernalisteskool by te woon en het aan die begin geen huisvesting gehad nie.

As Kapenaar met Tafelberg en die see elke dag voor my neus, het ek die Sans Souci en kontrei nie besonder esteties gevind nie!

Maureen kon nog ´n kamer met badkamer bekostig, maar ek moes my ablusies in die gang met die hoipolloi deel.

'n Huis in Westcliff, Johannesburg.
Ons wou eintlik albei so vinnig moontlik ‘n ander blyplek soek.

Hoewel die omgewing veel te wense oorgelaat het, was dit terselfdertyd om die hoek van baie mooi woonbuurte.

Westcliff en Parktown was voor- aanstaande en gevestigde voorstede. Die huise was argitek- tonies stylvol en met die goeie smaak wat gewoonlik ou geld vergesel.

Ek en Maureen, jonk, waaghalsig en vol lewensvreugde, het besluit om vir ons in hierdie keurige deel van Johannesburg losies te gaan soek.

Nie dat die inwoners van so `n voorstad enigsins op loseerders aangewese was nie!

Bob Courtney
Hups het ons een Sondagmôre die pad gevat en in Parktown doodluiters by die mense se hekke gaan lui.

Iets wat ´n mense daardie dae nog kon waag!

Die eerste man wat vir ons oopgemaak het, was toevallig die bekende radio-omroeper, Bob Courtney.

Hy was vriendelik en geamuseerd met die twee jong meisies in minirokke wat op ´n Sondag by hom kom losies soek het en was baie jammer dat hy ons nie kon help nie!

Ons is verder die pad teen die heuwel op. Ons het slegs die huise uitgesoek wat vir ons mooi was. Pragtige dubbelverdiepings met lowerryke tuine, sierlike balustrades om die balkonne en koel swembaddens koesterend in die oggendson.

By een huis het die huisheer besondere belangstelling getoon. Sonder om te aarsel het hy ons vriendelik binnegenooi en in die rigting van sy huiskroeg beduie. Hy was ook nie van plan om vir ons ´n melkskommel aan te bied nie!

Ons het onsself in ons kort rokkies teen die hoë kroegstoeltjies opgetrek en die gasheer het vir ons aldrie ´n stywe Martini ingeskink, kompleet met die groen olyf op die stokkie netjies in die glas geplaas.

Nà die eerste Martini het die tweede en die derde gevolg. Ek het dit so stadigaan begin berou dat ek nie ontbyt geëet het nie.

So tussen die drankies en gesels deur het die gasheer vir ons elkeen ´n kamer in sy mooi huis aangebied. Hy het alleen in die huis gewoon.

Wat alles daardie oggend in die man se kop afgespeel het, wil ek liewer nie weet nie. Hy moes gedink het dat hy die boerpot gewen het!

Een of ander tyd het ek en Maureen egter besef dat ons die hasepad moet kies! Ons het hom belowe dat ons die aanbod oordink en hom die volgende dag sou laat weet.

Ons het hom vir sy gasvryheid bedank en laat spaander.

Ons is twee rye spore, holderstebolder en soos twee bakvissies al giggelend die stywe afdraende af. Lekker hoenderkop van die Martinis en vrek bang dat die man ons in sy motor agternasit.

Buks Pietersen
Was ons bly om veilig by die Sans Souci aan te kom waar ons, ons roes behoorlik kon uitslaap!

Die volgende dag het ons vir Buks Pietersen gevra om asseblief die man te bel en die aanbod van die hand te wys. Buks het homself oor die foon as die misdaad verslaggewer van Die Vaderland voorgestel.

Soos die meeste van ons kollegas het ons in die omgewing van Melville en Braamfontein begin woonstel soek.

Ons droom om in Parktown te woon het saam met die droesem in die Martini glas agtergebly!