Die stigting van 'n maatskappy saam met twee vennote waarin Willem de Klerk groot skade gely het, het vir hom gewys “ek is nie ’n sakeman se gat nie”, skryf hy in sy “Opruiming”.
In die tyd tussen sy vertrek van Die Transvaler en sy aanstelling by Rapport het Willem de Klerk saam met twee vennote dié maatskappy gestig. “Dit was van die begin af 'n ramp en ek dink ek is gruwelik verneuk,” sê Willem.
Elk van die drie vennote het R30 000 in die onderneming belê. Die maatskappy sou 'n maandelikse nuusbrief opstel waartoe De Klerk en ander bydraes sou lewer. Hulle sou ook simposia aanbied, opleidingskursusse reël en allerlei politieke skakeldienste lewer. Een van die vennote was ‘n voltydse amptenaar. Die ding het aan gepoer-poer en die geld wat ons maandeliks maak, het net een vennoot, wat voltyds in diens was, se salaris en koste betaal.
“'n Groot transaksie is met 'n politieke party (nie die NP nie - Red.) beding om aan sy mense op verskillende vlakke opleiding te verskaf. Verder het ons 'n woonstel in die Kaap gekoop waar die vennote met hul ampsreise kon tuisgaan. En ons het 'n aandeel gekoop in grondtransaksies wat vir ons glo binne 'n jaar elkeen R30 000 kon verdien.

Van alles het niks waar geword nie. Vir elke ding wat misgeloop het, was daar altyd 'n verskoning en 'n belofte van beter dae. Die uiteindelike gevolg is dat alles inmekaargestort het en ek moes vir my aandeel in die skuld R39 871 betaal op 1 Junie 1990. Vir iemand van my vermoëns was dit 'n formidabele hap uit my fondse...
Geld in die water gegooi! Die rede: ek was te goedgelowig (dis dan my vriende wat my in hoë eer hou); ek was te min kontrolerend, agterdogtig, veeleisend (wat wys ek is nie 'n sakeman se gat nie; en ek was te besig met ander dinge. Ek vermoed ek is ingeloop. Tog is ek nog so half en half vriende met hulle. Hoekom? Vergewensgesindheid of swakkeling-wees? Ek dink dis die laaste.”
Hy skryf dat daar 'n moontlikheid was dat hy sy derde aandeel sou terugkry as sekere grondtransaksies sou deurgaan. “Dis 'n pypdroom, maar dit staan op rekord.”

Dit was in dié tussenfase dat Jonathan Ball hom gevra het om 'n boek te skrywe. “Ek het dit binne vier maande voltooi –- die Afrikaner (R)evolusie. Die boek het in 1984 verskyn. Ek is steeds trots op dié boekie. Dit was 'n verdere stoot aan verligtheid.
“Ek wil hierby aanhaak om te vertel dat intensiewe harde werk, gekoppel aan deadlines, altyd vir my terapeuties was. Spanninge, depressie, angs, bedreigdheid, of watter emosie ook al, het ek dwarsdeur my lewe verdring met werk. Dis natuurlik 'n houding met voor- en nadele. Die voordeel is hoë produktiwiteit en dat werk amper my manier van opstaan is as ek platgeslaan is. Ek het 'n naam dat ek 'n ‘survivor’ is –- ek oorleef terugslae, ek maak 'n ‘comeback’ na ek telkens uit die sinagoge geban is. Ek pop weer op. Ek verwerf weer invloed nadat ek gestroop is. Dis reg, maar ek bereik dit met 'n geweldige beur deur middel van 'n nuwe ding aan te pak en koorsagtig daaraan te werk.”
Die hoofnadeel is “dat ek my emosies nooit behoorlik deurgewerk het in my grenssituasies nie. Ek het dit verdring met werk. Die gevolg is dat ek telkens weer, na mislukkings sukses behaal het, maar emosioneel 'n wrak gebly het.”
(Word vervolg: Willem word neergevel deur 'n donderslag – peritonitis –
sterf byna en sien groteske, angswekkende gesigte.)