Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.11.12

Tienie kry Japie in skoonma se Goeie Boeke

JAPIE BOSCH skryf: Tienie Fourie se storie anderdag het my herinner hoe hy ’n rol gespeel het om my aandele by my baie gelowige toekomstige skoonma laat styg.Ten tye (omtrent 1970) was Tienie redakteur van Saterdag-Vaderland en ek was skaars ’n jaar by die koerant. Hy het my vertel van ’n man wat Bybels versamel en gevra of ek die storie vir hom sal doen.

Dié man het Bybels van alle groottes, tale, kleure en wat nog gehad. Baie indrukwekkend.

Tienie Fourie
Dieselfde dag toe die artikel (amper die hele middelblad vol) verskyn het, moes ons my skoonma by die lughawe gaan haal vir 'n kuiertje uit Rhodesië. As ’n skoolhoof was sy nie baie beïndruk dat ek die "edel" beroep van onderwyser laat vaar het om ’n sensasie-soekende koerantman te word nie.

Later in die dag vra sy my toe uit oor koerantwerk en waaroor ek skryf. Dis toe dat ek daai Bybel-artikel uitpluk. Tant Kokkie was in haar skik met my. “Wonderlike werk,” het sy laat hoor.

Die Maandag het ek vir Tienie ’n ietsie by die Sans gaan koop.