Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

19.11.12

Ons was daar – ‘selfs toe Van Riebeeck land’

TIENIE SERFONTEIN, gewese redakteur van Die Noordelike Stem/The Northern Times, skryf in 1988: My eerste kennismaking met Die Noordelike Stem was as ’n skooldogter, 60 jaar gelede. Ons, die inwoners van die meisieskoshuis kon nie wag om die koerant – destyds die Kroonstad Times te koop nie. Prys: een pennie (1c). Die pennie moes ons om die beurt betaal, want met min
sakgeld het jy nie jou pennies roekeloos spandeer nie.

Hierdie vertelling van tant Tienie is vervat in 'n bylae van Die Noordelike Stem/The Northern Times, wat op 25 Maart 1988 verskyn het om die Stem/Times se 85e verjaardag te herdenk. Dié koerant was destyds ’n Perskor-publikasie wat op Kroonstad in die Vrystaat uitgegee is, Bennie Neethling, afgetrede redakteur, het vir K’rant ’n eksemplaar van die bylae, Fokus, geleen.K’rant het die eerste van twee artikels hieruit verlede Maandag geplaas. Klik HIER om dit te lees.

Die hoofrede vir die belangstelling in die koerant was om die verslag van die National Council of Women deur IB te lees. IB was mej Iris Bartman, ’n onderwyseres en ook inwoner by die koshuis, wat later ons Engels-onderwyseres sou word. Sy was baie gesteld daarop dat ons koerant moes lees.

Daardie jare het die plaaslike koerant – hoofsaaklik in Engels – ellelange verslae oor sosiale geleenthede geplaas. Terloops, die verslag oor Miss Bartman se huwelik met mnr Johny du Randt in Stellenbosch, is in die fynste besonderhede gerapporteer – die bevestiging, die bruid se rok, die huweliksonthaal, die versiering van “lover knots” agter hul stoele, die name van die gaste. Dit alles het ons geboei. Mnr en mev Du Randt was die ouers van mev Koekoe du Plessis, lid van die personeel van die English Primary School.

Een pennie (1923)
Die prys van die
Kroonstad Times.
Doodsberigte het ons ook geïnteresseer. Altyd ’n lang storie oor die oorledene en les bes ’n lys van die mense wat kransies gestuur het. Dit was my kennismaking met die inwoners van Kroonstad.

Die ander nuusberig wat ons met aandag gelees het, was dié van die stadsraad. Min het ek kon droom dat dit eendag my voorreg sou wees om meer as dertig jaar lank die besluite van die stadsraad aan die inwoners van Kroonstad deur Die Noordelike Stem oor te dra.

Ek wil nog ’n troue meld – die huweliksbevestiging in 1932 tussen mnr A. B. Cilliers, onderwyser en ook digter, bekend vir sy kwinkslae en humor, met mej Ethel Dyter, die eerste vrou in die land wat ’n setmasjien beman het.

Sy was die dogter van mnr Henry Dyter, drukker en uitgewer van die Kroonstad Times. Die bruidegom moes antwoord op al die heildronke. Hy besluit toe om self ’n heildronk op die gaste in te stel. Dit het gelui: “Here is champagne to my real friends and real pain to my sham friends.” Rympies van wyle mnr Cilliers verskyn nog dikwels in Huisgenotjies van Die Huisgenoot. (Hy het destyds gereelde bydraes onder die skuilnaam ABC vir die rubriek gelewer. – Red.)

Die Noordelike Stem was die koerant wat die nuus van die dorp in die huise van die inwoners gebring het, sakemanne oor gebeure ingelig het en die sportprestasies van die deelnemers uitgelig het.

Daar was die dag toe ek as korrespondent van die SAUK deur die bestuurder van die Stem versoek is om hom op kantoor te kom spreek.

Mnr Frikkie Senekal was haastig van geaardheid en toe ek nie daardie selfde dag opdaag nie, het hy gebel. Binne enkele minute nadat ek by hom op kantoor was, is ek op die redaksie aangestel – die enigste lid. Sommer in die diepkant ingegooi. In alle beskeidenheid wil ek net noem dat die Stem daardie jaar met die Hultzertrofee vir plattelandse koerante bekroon is.

Mnr Hannes Cilliers het nog beter gevaar toe hy, ná my, twéé trofees, die Hultzer én die Cronwright gewen het. Dit is geen geringe prestasie nie.

Net ter verduideliking, ek het my dienstyd hier onderbreek om heeltyds vryskutwerk te doen.

Die Stem was daar waar nuus gebeur het. Dit het my die naam Tienie Times besorg, maar ek kan nie alleen die eer daarvoor aanvaar nie. Die inwoners het geskakel, hulle het die gebeure van die week wat voorlê, aangemeld en op hierdie wyse kon die Stem wye dekking gee.

Van Riebeeck-landing.  Tant Tienie was daar.
Nuus, nuus en nog meer nuus. Selfs my kinders het met nuuswenke gekom. 

My jongste dogtertjie het dan eendag in die Sub A-klas tydens ’n bespreking oor Van Riebeeckdag gesê haar ma was daar toe hy in die Kaap geland het. Die juffrou het dit betwyfel en so gesê, maar Noratjie het volgehou. “Juffrou, my mammie werk by Die Noordelike Stem en as iets belangriks gebeur, dan is sy daar en neem foto’s.”

Dit was nie ongewoon om die dag met ’n vetveeveiling te begin en dit die aand by ’n banket af te sluit nie. Daar was goeie nuus – oor die uitbreiding van ons dorp, die dienste, die afstigting van gemeentes, van skole, die ingebruikneming van die Serfonteindam en die kragsentrale, albei deur mnr Jim Fouché, eers administrateur van die Vrystaat en later lid van die kabinet.
Spoetnik: Oktober 1957

Die elektrifikasie van die Johannesburg-Kroonstad-spoortrajek, toe Spoetniek – die sneldiens tussen Kroonstad en Johannesburg sy verskyning gemaak het. Daar was droogtes en waterbeperkings. Daar was sneeu in 1963, oorstromings in 1957 en 1975. Die Noordelike Stem was daar.

Daar was ook die hartseerstories – hofsake, moord. Die verhoor van die vader wat sy twee dogtertjies op die agterste sitplek van sy motor met sy das vermoor het uit wrewel teen sy vrou wat hier in die gevangenis ’n vonnis uitgedien het. Die Noordelike Stem was daar.

Daar was die paartjie wat in die gevangenis in die huwelik bevestig is. Die konserte wat deur gevangenes op die planke gebring is – eers agter hoë doringdrade, later in die C. R. Swart-saal.

Daar was tye dat ek in die hof gesit het om te hoor hoe die doodvonnis oor moordenaars uitgespreek word. Dit is ’n gebeurtenis in die lewe van ‘n verslaggewer wat jou lewenslank bybly.

CR Swart
Daar was die wonderlike voorreg om die eerste verslaggewer te wees om met mnr CR Swart, die laaste goewerneur-generaal van die Unie en die eerste staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika, ’n onderhoud te voer.

Daar was die mense van Kroonstad en bo alles die kinders van Kroonstad wat presteer het en hul merk in die lewe gemaak het. Dit was die trots van die Noordelike Stem.

Daar was ook tye van verleentheid. Ek dink aan die pragtige jongman wat my eendag kom groet het. “Ken tannie my nog?” Ek kon hom nie dadelik plaas nie. Soveel honderde skoolkinders het my pad gekruis. Waar sou hy in die prentjie inpas?

“Tannie, ek is Stoffeltjie (‘n fiktiewe naam). Tannie het my foto geneem toe ek die eerste dag skool gegaan het.”