MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Hofstories darem! Wyle Johann Britz se vertelling van sy ervaring in die Paleis van Justisie tydens die Vontsteen‐moordverhoor, het my laat terugdink aan sommige van die dinge wat in my hofverslaggewersdae met my gebeur het. Vat nou maar die keer toe 'n geheimsinnige joernalis se pad in die Johannesburgse hooggeregshof met myne gekruis het. In die skeihof, om presies te wees.Die jaar was 1971, en in die Johannesburgse hooggeregshof het skeisake destyds op Woensdae voorgekom. Die Vaderland het 'n bladsy daaraan afgestaan. Die hooggeregshof‐verslaggewer was Jan Hoeksema (ook al aan die ander kant) en my turf was die landdroshof. Maar dié Woensdag moes Jan 'n ander hofsaak bywoon en ek moes vir hom in die skeihof instaan. Dit sou my vuurdoop in die hooggeregshof wees.
