Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.10.18

Geheimsinnig in die skeihof

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Hofstories darem! Wyle Johann Britz se vertelling van sy ervaring in die Paleis van Justisie tydens die Vontsteen‐moordverhoor, het my laat terugdink aan sommige van die dinge wat in my hofverslaggewersdae met my gebeur het. Vat nou maar die keer toe 'n geheimsinnige joernalis se pad in die Johannesburgse hooggeregshof met myne gekruis het. In die skeihof, om presies te wees.

Die jaar was 1971, en in die Johannesburgse hooggeregshof het skeisake destyds op Woensdae voorgekom. Die Vaderland het 'n bladsy daaraan afgestaan. Die hooggeregshof‐verslaggewer was Jan Hoeksema (ook al aan die ander kant) en my turf was die landdroshof. Maar dié Woensdag moes Jan 'n ander hofsaak bywoon en ek moes vir hom in die skeihof instaan. Dit sou my vuurdoop in die hooggeregshof wees.

Jan Hoeksema
Nie dat hooggeregshofsake en die hooggeregshofgebou in Pritchardstraat vir my heeltemal vreemd was nie, want tydens oom Hermie Hendriks se joernalisteskool het Jan Hoeksema ons groepie groentjies soms hooggeregshof toe begelei om ons touwys te maak. Soos Hanlie Vornberg reeds in 'n storie genoem het, moes ons hofsake bywoon en daarna berigte daaroor skryf.

Dit was egter één ding om in 'n bondel en saam met 'n gesoute leier hooggeregshofsake by te woon en onder 'n wakende oog berigte daaroor te skryf, maar dit was 'n perd met 'n ganse ander stamboom om vir die eerste keer op eie stoom hooggeregshof‐verslaggewing te doen. Boonop met 'n genadelose spertyd wat jaag.

Om die waarheid te sê, ek was maar erg bewerig in die knieë toe ek daardie oggend in Pritchardstraat uit die persmotor klim en van die sypaadjie af na die majestieuse sandsteen‐hofgebou (dateer uit 1911) met sy bronskoepel en manjifieke hoë pilare by die ingang opkyk. Deesdae is daar 'n draadheining om die pragtige ou plek, maar doerietyd het niks die grootsheid onderbreek nie. (

En asof dit die amptelikheid van die gebou en die erns van die sake wat daar verhoor word, wil beklemtoon (die berugte gifmoordenares, Daisy de Melker, is in 1932 in hof 3 ter dood veroordeel), troon die Von Brandis‐standbeeld op die een hoek van die hooggeregshof ‐‐ hoek van Pritchard‐ en Von Brandisstraat ‐‐ bokant die voetgangers uit. Hy was 'n wyse man, kaptein Carl von Brandis (1827‐1903), wat nie net Johannesburg se eerste landdros en die eerste mynkommissaris van die Witwatersrand was nie, maar wat ook as die vader van Johannesburg beskou word. Oorlewering wil dit hê dat hy sy hofsake met gesonde verstand en 'n sin vir regverdigheid, eerder as met regskennis beslis het. Sy aansien was egter so hoog dat almal sy uitsprake aanvaar het.

Net voordat die hof daardie oggend sou begin, het so 'n lang man met 'n deur‐die‐wind‐lyftaal hom langs my op die persbank neergeplonk. A ha, 'n bondgenoot in verwildering, het ek ingenome gedink; waarskynlik 'n mede‐groentjie.

Tyd vir kennismaak was daar egter nie, want hy het nog skaars sy sit gekry, toe die regter binnekom. Maar die eienaardigste ding: Ten spyte daarvan dat die vreemdeling skryfgoed gehad het, het hy amper nie 'n dooie woord se aantekeninge neergeskryf nie. Hy het die meeste van die tyd net na myne gestaar.


Is die man dan nou besig om te "krip?" het ek gewonder. Maar indien wel, was ek min gepla. Want sien, ek het my aantekeninge in spoedskrif* neergeskryf.Dit was een van die vakke wat ons op die joernaliste‐kursus moes baasraak.

Tensy die vreemdeling hierdie hiërogliewerige skrif geken het en boonop een van die min mense was wat met 'n fotografiese geheue geseënd was ‐‐ kanse was maar skraal ‐‐ sou my aantekeninge hom net so min gehelp het as 'n sigaret sonder 'n aansteek‐dingetjie. Net om enige afskrywer se vaarwater nog meer te vertroebel, het ek hier en daar my eie uitdinksels van spoedskrif gebruik.

So het dit 'n ruk lank aangegaan: Ek maak aantekeninge dat dit klap, hy staar. Dan skryf hy so 'n bietjie in sy notaboekie; dan betrag hy weer my werk. Totdat die hof vir teetyd verdaag. Dis toe dat hy my net buitekant die hofdeur prontuit vra: "In watse taal skryf jy?"

Huh? Maar saam met die verbasing, het ek geamuseerd vir 'n korte oomblikkie ook kompleet nes 'n geheimsinnige spioenasie‐heldin met 'n kop vol geheime planne en kodes gevoel, 'n James Bond‐"girl." (Jaaa, Ursula Andress, ek sou my wát verbeel.)

Ek het darem gou weer na Moeder Aarde teruggekeer, vriendelik geglimlag en dié ding van spoedskrif aan Die Vreemdeling verduidelik.

Ná my verduideliking was daar 'n kort stiltetjie van sy kant af, gevolg deur 'n kortaf "O." Maar nog voordat ons by "aangename kennis" en "van watter koerant is jy?" kon uitkom, het hy sommer net so koeps! op sy hak omgedraai en die pad gang af gevat. Die res van die dag het ek hom nie weer met 'n oog gesien nie en ons het mekaar ook nooit weer by enige hof of persgeleentheid teëgekom nie. Wát 'n geheimsinnige man!

(* Met spoedskrif gebruik 'n mens die alfabet en met snelskrif gebruik 'n mens simbole -- Red.)