Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

22.4.23

Elisabeth van Oostenryk in Korfu

HANLIE VORNBERG skryf: Nadat ek Piet Ebersöhn se twee interessante berigte oor sy nuwe blyplek, Korfu, gelees het, het ek skeilik onthou dat daar 'n interessante verbinding bestaan tussen Korfu en Oostenryk.

Dit is die paleis Achilleion, sewe kilometer suid van die stad Korfu. Elisabeth,die Keiserin van Oostenryk en Hongarye, het dit in die jare 1890 tot 1892, vir haar laat bou.

Keiserin Elisabeth, genoem Sisi, was die vrou van Keiser Frans Josef I wat van 1848 tot sy dood in 1916 oor die Oostenrykse Ryk regeer het. Elisabeth was uit die Duitse adelsgeslag Wittelsbach en was aan die Habsburgse keiser verwant.

18.4.23

‘Zijn naam is Kleijn, zijn daden bennen groot’

Lang Gerhard Kleijn
HOPELIK sal die Nederlandse liriekskrywer van “De zilverenvloot” bostaande stukkie vryheid met sy woordkuns vergun as ons na Gerhard Kleijn verwys. 

HARALD PAKENDORF, ’n gewese redakteur van Oggendblad skryf: Gerhard Kleijn is ʼn voorbeeld van iemand wie se naam nie by hom gepas het nie. Nie in statuur nie, maar ook nie as verslaggewer nie. Hy het sy leerjongenskap by Oggendblad in die Sewentigs in Pretoria deurloop. 

Van die begin af was dit duidelik dat hy in ʼn redaksiekantoor tuis is. Nie te lank nie toe het ander weivelde geroep en was hy opeenvolgens redakteur van spesialis- en plaaslike koerante.

Harald Pakendorf
In sy laaste jare net deur Facebook (Aletta s’n) geweet hoe dit met hom gaan. Sy afsterwe het ons heeltemal onkant gevang en laat ʼn leegte. 

DRIES SONNEKUS, ’n gewese redakteur van Die Kouter, skryf: IN my geval is dit deesdae net ʼn kort treetjie en dan is ek daar – deel van daardie groot ritueel wat ek eenkeer op Korfu gesien het. Ons groot vriend – paradoksaal Gerhard Kleyn – het nou reeds daardie tree gegee en so met sy lang bene uit ons lewens getree. Ons sal hom mis.   

15.4.23

Gerhard Kleijn oorlede

Gerhard Kleijn
GERT VAN ROOYEN laat weet dat Gerhard Kleijn gister oorlede is. Geen nadere besonderhede is bekend nie, maar K’rant sal laat weet sodra dit meer te wete kom. 

(Gerhard het sy loopbaan as koerantman by die Klerksdorp Rekord begin, was later aan Oggendblad en Die Kouter verbonde, eh hy en vrou, Angie, het die afgelope klomp jare ‘n baie suksesvolle gemeenskapstydskrif, Die Bronberger, aan die Ooste van Pretoria uitgegee. – Red.)

3.4.23

Charl Thom oorlede

Charl Thom, voormalige assistent-tot-die-readakteur van Die Vaderland is op 14 Maart 2023 oorlede. In 'n stadium was hy ook taalversorger van K'rant.

Onderstaande het op 23 Maart in Weslander verskyn. Nog oor Charl is HIER.


1.4.23

Reünie 2023: Geborg deur Dagbreektrust

DIS weer tyd vir lekker kuier by ons volgende reünie van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers (dis nou APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens). 

Die reëlingskomitee, onder leiding van voorsitter Harald Pakendorf en bygestaan deur sy gade Aletta, Louise Blake en Madelaine Page, het besluit om vanjaar weer ‘n funksie by dieselfde restourant – die Irish Rock - te hou. 

  • Die saamtrek vind op Sondag 7 Mei 2023 plaas. 

29.3.23

Eiland van ons drome (2)

PIET EBERSÖHN skryf: EK vertrou julle het nou ʼn glasie ouzo in die hand sodat ons teug-teug, rustig verder kan kuier. 

Toenterjare toe ʼn mens nog na ʼn aftrede uitgesien het, en jy het ʼn afgetredene gevra hoe dit gaan, was die antwoord so te sê sonder uitsondering: “Besiger as ooit.” 

Deesdae besef ek hoe waar dit is. Nie dat ʼn mens meer uitrig nie, nooit gesien nie. Alles duur net soveel langer om af te handel en is ʼn groter gesukkel. 

Nietemin, dit wat ons doen, geniet ons. 

26.3.23

Eiland van ons drome (1)

PIET EBERSÖHN skryf: DAAR het jy dit nou. Ek kry toe hierdie briefie van Karin Pretorius af in die pos.

“Jy het almal nou al aan die skryf gekry oor Perskor en wat hulle tans doen. Wil jy nie iets oor jouself en die lewe op Korfu skryf nie met pragtige foto’s waar julle bly en hoe die eiland deesdae lyk? Dit sal mos nou baie interessant wees.

”Hoe kan ek nou weier sonder om myself in die voet te skiet? Soveel skrywers het al op my versoek namens K’rant gereageer; soveel ander het belowe en ek maak daarop staat dat hulle hul beloftes nakom. Daar moet dan seker nie ʼn beskuldigende vinger na my gewys word nie. 

Dit sal vroeg November ses jaar wees sedert ons permanent op Korfu voet aan wal gesit het, en al is ons al goed ingesete leer ons nog gereeld iets nuuts om die lewe interessant te hou. 

25.3.23

Wat ‘n affêre was dit nie!

JAPIE BOSCH skryf:  IN 1970 – ná ‘n jaar se skoolhou – het André Verster my as ‘n verslaggewer  by Die Vaderland aangestel.   Ons almal was verslaggewers.  Deesdae is almal joernaliste.

Frans du Toit was die nuusredakteur vir wie ek baie respek gehad het.  AM van Schoor was hoofredakteur.  Ons het hom selde gesien.

Paul Kruger het my munisipale verslaggewing geleer.  Die jare daarna was ‘n universiteit vir my. Daardie agtergrond was van groot waarde in my latere loopbaan.

19.3.23

Oor babas, troeteldiere en koerantsirkulasie – veral troeteldiere

HANLIE VORNBERG skryf: EK het gesien op die foto’s wat die K`rant-skrywers ingestuur het, was baie met hul troeteldiere afgeneem. 

Toe Hermie Hendriks destyds vir ons in die joernalisteskool "Human Interest"-stories verduidelik het, het hy gesê: Plaas 'n baba op die voorblad en jou sirkulasie styg. Plaas 'n baba en 'n hond op die voorblad en jou sirkulasie skiet die hoogte in. 

Ek sien die klomp is maar huiwerig om te skryf ... kom ons rook hulle uit met 'n storie oor troeteldiere! 

Van die lekkerste stories wat ‘n mens dikwels hoor, het met mense en hulle diere te doen. 

1.3.23

Besoek aan die bank

HANLIE VORNBERG skryf: HULLE sê jy praat nie oor geld nie, jy HET dit. Of jy praat nie oor geld nie, jy GEE DIT UIT! Vanoggend wil ek onverfynd wees en die reël oortree en vertel oor die besoek wat ek onlangs by my plaaslike bank gehad het. 

Ná ʼn huwelik van bykans veertig jaar, was ek daaraan gewoond dat Richard al ons geldsake behartig het. Ná ons egskeiding, waartydens hy gelukkig 'n gentleman was en my nie finansieel benadeel het nie, moes ek begin om al my sake alleen te hanteer. 

Veral wat die geldsake betref, het ek gevoel soos ʼn donkie op 'n ysskaatsbaan.

24.2.23

Verskeie oorledenes se name ontbreek

HERMAN SNYMAN laat weet daar is heelwat oudkollegas wat oorlede is maar nie op K’rant se lys verskyn nie. 

ʼn Interessante weglating is die naam van HA van der Merwe, ʼn senior verslaggewer by Die Vaderland. Van der Merwe was die skrywer van die boeke “Meng My Wyn” en “Op die Top van die Mas”, die eerste Afrikaanse boeke wat deur die sensors verbied is. 

18.2.23

Hanlie herleef die wonder van die boom en die Appelvrou

HANLIE VORNBRG skryf: IN die tuin van die huis wat ons drie jaar lank in Kopenhagen gehuur het, het ’n ou appelboom gestaan. Die boom was oor die honderd jaar oud en so hoog soos die dubbelverdieping self. Elke laatsomer, tot diep in die herfs, het die boom in drag gestaan. Swaar en mat soos 'n markvrou met arms vol appels. 

Die takke het in hulle oorvloed af aarde toe gebuig en ons het op ons tone gestaan en gepluk en gepluk. Soms het ons op 'n leer geklim om in die hoogste toppe by te kom maar die boom wou net nooit kaal word nie! 

Wanneer die herfswinde begin waai, het van die appels afgeval en oor die hele grasperk gerol waar sommige verrot en ander deur die slakke toegetakel is. 

13.2.23

Toe ‘sirkulasies’ nog miljoene beloop het

GERHARD BURGER skryf: KOERANTE en tydskrifte spog nie meer met verkoopsyfers nie. Om heel begryplike redes ook. 

Die aand toe die Grootste Afrikaanse Koerant ter Wêreld ʼn fees der feeste gehou het om die verkope van ʼn halfmiljoen eksemplare op een Sondag te vier, is ʼn mooi baken langs die pad van SA joernalistiek. 

 ʼn Engelstalige koerant het op ʼn kol op die verkope van 750 000 aanspraak gemaak en ʼn paar jaar gelede het heelparty SA dagblaaie nog gereeld indrukwekkende “sirkulasiesyfers” op hul voorblaaie aangekondig. 

Almal weet wat sedertdien gebeur het. Deesdae moet ʼn mens weet waar om te gaan soek om die getalle te bekom. 

9.12.22

Komkommertyd breek aan

DIS weer sulke tyd. Komkommertyd.

Soos gebruiklik benut die K'rant-redaksie dit om 'n rukkie laag te lê. 

Ons wens al ons lesers 'n geseënde Kersfees toe en vertrou dat 2023 net die beste vir julle sal inhou. 

K'rant beplan om weer op 16 Januarie te verskyn. Rus lekker uit sodat julle ons dan met stories kan oorval.

28.11.22

Die grot met die pikante naam!

HANLIE VORNBERG skryf: EK versamel graag ou Africana-boeke en veral die stories uit die Ou Kaap is ʼn voorliefde van my. Sommige daavan is so kostelik dat ek dit graag met die K’rant-lesers wil deel. 

Een daarvan is die storie oor die grot in Vishoek wat vandag bekend staan as Peers se Grot. Die grot is in 1926 vernoem na Victor Stanley Peers (1874 – 1940) en sy seun, Bertie, wat die skedel van die sogenaamde Vishoekmens, ongeveer 12,000 jaar oud, tydens opgrawings, daar gevind het. Voor dit was die grotte bekend as die Skildersgatgrotte. Die grotte het egter nog lank voor dié naam, 'n ander meer pikante naam gehad! 

22.11.22

 Vertel K’rant as julle boeke publiseer

PIET EBERSÓHN skryf: JOERNALISTE is mos maar in wese skrywers en dit is noodwendig dat talle van hulle mettertyd ook boeke op hul kerfstok plaas. 

Dis ook die geval met diegene wat vir Perskor en sy voorgangers gewerk
het, al die pad terug tot by tot by Harm Oost en die Noordelike Drukpers-maatskappy wat Ons Vaderland in 1915 begin uitgee het. Daarna was daar Afrikaanse Pers, Voortrekkerpers, Dagbreekpers, Perskor en Republikeinse Pers – en die gedeelde Rapport-uitgewers.

14.11.22

Die dag van die klavier

HANLIE VORNBERG
skryf: EK was van kleins af musikaal. Het met drie al elke deuntjie oor die radio met my vingers op die kombuistafel saamgetokkel. My ouers het vir my ʼn klein swart klaviertjie gekoop wat net een oktaaf breed was. Dit was verbasend wat ek alles op daardie agt klawers kon speel.

Toe ek agt jaar oud was en in standerd een, het my pa my een Saterdag aan die hand geneem en gesê: “Kom, ons gaan nou vir jou 'n klavier koop!”

Ons is na ʼn musiekwinkel in Seepunt en ek moes vir my ʼn klavier uitsoek.

Ek het voor ʼn bruin blinkgepoleerde Fritz Kuhla-klavier gaan sit en op een oktaaf die lied Tiritomba gespeel. Dit het presies op die agt note uitgewerk! Die klavier het 300 pond gekos en het ʼn week later in ons sitkamer gestaan. 

5.11.22

Fotoblad van Peet en Elise van Staden

Enkele weke terug het Peet en Elise van Staden  van hul kleurryke lewe en talente vertel. Van die foto's wat Peet saamgestuur het, het nog nie hul pad na K'rant gevind nie.  Hier is hulle nou.

• Oudkollegas kan gerus deur hul foto-albums blaai en herinneringe aanstuur. 

Peet van Staden (middel) was een van vier gewese voorsitters van die eerstydse Randse Sportskrywersvereniging wat teenwoordig was toe die vereniging se geskiedkundige beker vir die Sportman van die Jaar aan die Goue Leeus-rugby-unie se museum oorhandig is. Links van Peet is Ria Rabie en Willie Roux en heel regs Harry Lombaard. Tweede van regs is Andre Bester, wat die skenking bewerkstellig het. Al vyf is gewese Perskorhane.

30.10.22

Oud-Oggendbladters voer iets in die mou

DRIES LE ROUX skryf: EK was onlangs bevoorreg om ’n draai te maak by De Wet Potgieter se Nagkantoor op Kaapsehoop. Terwyl ek en hy gesels het oor die ou Oggendblad-dae, en ek en Gerhard Kleijn ook daarna, het dit my opgeval dat elkeen van ons ’n beperkte herinnering aan ons tydperk by Oggendblad het. Ons onthou uiteraard meestal diegene met wie ons nou saamgewerk het en die insidente wat ons self beleef of aanskou het. 

24.10.22

Uit ʼn ‘duistere’ verlede

AL stuur jy net ʼn foto en ’n onderskrif, het Japie Bosch gepleit. PIETER VAN DER BERG, ʼn gewese lid van Die Transvaler se finansiële redaksie het hierdie foto van hom, sy vrou, Susan, en twee oudjoernaliste van DT, Lizette Bruwer (nou Moskovitz) en Piet Ebersöhn by die een of ander spoggerige okkasie gestuur. Sonder die onderskrif. Dalk kan iemand lig op die saak werp.