Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.5.25

REÜNIE 2025: GEBORG DEUR DAGBREEKTRUST


Dis weer tyd vir lekker kuier by ons volgende reünie van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers (dis nou APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens). Die reëlingskomitee, onder leiding van voorsitter Harald Pakendorf en bygestaan deur sy gade Aletta, Louise Blake en Madelaine Page, het besluit om vanjaar weer ‘n funksie by dieselfde restourant as tevore – die Irish Rock - te hou. 

Die saamtrek vind op Sondag, 25 Mei 2025, plaas. Die ete begin stiptelik om 12:30. Kom van 11:30 af en kuier eers lekker saam. Daar is ‘n kontantkroeg. Die Irish Rock se buffet bied bief bourguinon, oondgebraaide hoender, rys, patats, roomspinasie, geelwortels en Griekse slaai. Vir nagereg, sjokolade bruintjie en roomys, of malvapoeding en vla.

12.5.25

Op soek na Hermie Hendriks se dogter, Hermien, i.v.m. boeke

Hermie Hendriks
PIETER HAASBROEK skryf: My voltydse werk is om ou storieboeke van FA Venter, Gerrie Radlof, Braam le Roux en vele ander weer die lig te laat sien, deur die boeke as e-boeke uit te gee op Amazon, Google en ander platforms, in Afrikaans en Engels.

Ek het reeds meer as 230 boeke van bv. Die Sahara Avontuur reeks, Swart Luiperd Reeks, Oloff die Seerower reeks en andere uitgegee.

Ek weet dat Hermie Hendriks op 25 Junie 2020 oorlede is en sal baie graag met sy dogter wil kontak maak oor haar pa se Diamantveld Avontuur reeks van 12 boeke wat hy geskryf het.

Ek sal dit dus hoog op prys stel indien julle my Hermien se e-pos en/of foonnommer kan gee om haar te kontak.

My eie webwerf waar ek die eboek reekse verkoop is https://panther-ebooks.com 
en op Amazon sal die e-boeke wat ek uitgegee het, opgespoor kan word deur bv. my naam "Pieter Haasbroek" in amazon.com in te tik.

Laat weet my asseblief of julle my dalk kan help.Ek sal dit hoog op prys stel.

Groete uit die Strand in die Weskaap.

19.12.24

Zoom-skakel vir Willem Allen se diens

GLAZELLE POHL skryf: Hier is die Zoom-besonderhede vir 19 Desember 2024 om 10:30.
Meeting id 5399657696
Passcode 1234 

Of as jy ʼn Zoom app en login het, kan jy dié een gebruik: 

https://us06web.zoom.us/j/5399657696?pwd=ZUVSVjVVZ3dFc2Y1
NnVLTXNaNVhWZz09&omn=73754508894

14.12.24

Willem Allen oorlede

WILLEM ALLEN se dogter Glazelle Pohl laat weet dat hy vanoggend (13 Desember 2025) op 86 oorlede is ná ‘n stryd teen kanker. Hy was die afgelope drie maande ernstig siek en het veral die laaste maand vinnig agteruit gegaan.

Hy is op 13 April 1938 gebore.

Willem laat sy vrou Gladys en ʼn hele groot familie agter: sy dogters, Rosa van Eck, Wilma Schutte, Glazelle Pohl en Rene du Toit; skoonseuns Jannie van Eck, Ignatius Pohl en Thomas Rensleigh; sewe kleinkinders en ses agterkleinkinders.

3.12.24

Koerante waai soms die vergetelheid in

PEET VAN STADEN skryf:  Shoe Lane was wel die straatadres, maar dit is of was g’n laan nie, allermins ‘n straat. Dit was eintlik maar die ingang na ‘n kantoorgebou ‘n paar meter se stap van Fleet Street af.  Die gebou se naam was die International Press Centre, en daar beleef ek op ‘n somerse Saterdagnag iets wat ek jare later besef het simbolies is van die hoogtepunt van koerante, veral Sondagkoerante.

Ná my laat werkery in Rapport se kantoor in die perssentrum het ek regs gedraai in Fleet in die rigting van Trafalgarplein. Hy was, kleurryke verlede en al, self nie veel van ‘n straat nie. Maar die name teen die geboue aan weerskant het hom die trefkrag van ‘n emosionele bakoond gegee: The Times, News of the World, The Daily Telegraph, Daily Mail.

26.11.24

Die Transvaler se fotograwe was ysters

KOBUS BOTMA stuur ʼn knipsel uit Die Transvaler van 14 Maart 1978. Dit lui: 

DIE TRANSVALER se fotograwe het nie minder as drie van die pryse in die jaarlikse wedstryd vir die beste persfoto’s verower nie.

In die wedstryd vir verlede jaar het Pierre Oosthuysen, hooffotograaf van Die Transvaler, die prys vir die beste sportfoto van 1977 verower. Hy ontvang daarvoor ʼn kontantprys van R200.

Die tweede prys in die afdeling vir nuusfoto’s is ook deur ʼn Transvaler-fotograaf, Jack Fenix, ingepalm. Mack van der Walt, ook van Die Transvaler, het die vierde prys in dié afdeling verower.

14.11.24

Willem het ʼn lang pad met diep spore by Perskor gestap

WILLEM ALLEN skryf: K'rant het gevra dat ek my tyd by Perskor moet beskryf. Hier is ʼn kort weergawe van hoe dinge verloop het.

Ek begin op 6 Februarie1957 by TW Hayne en Gibson, Dagbreekpers as betaalmeester.

Tussen 1966 en 1976 was ek vervoerbestuurder. In daardie tyd kry ek ook addisionele verantwoordelikheid om toesig te hou oor Plaas Marius met die vang van wild, soos impala, wildebeeste, kameelperde, renosters en swartwitpense uit Suidwes-Afrika en om hulle te vervoer na Plaas Marius in Louis Trichardt-distrik.

24.10.24

Binnepret terwyl Jan koets vir die Coetzees

PIET EBERSÖHN skryf: EK wil allermins beweer dat Jan van Vuuren die feite oor sy potjie met die Coetzees verdraai, maar verbeel my tog dat die storie effens anders verloop het.

Dalk is daar iemand wat die een of ander se weergawe kan bevestig of dalk ʼn derde een het om weer te gee.

Soos ek dit onthou, was Jan iewers op ʼn storie uit of nie aan diens nie toe die Coetzees by die kantoor in Doornfontein opgedaag het.

14.10.24

Kuier in boekwinkel red Jan van slae

JAN VAN VUUREN skryf: DIE koop van sportboeke was – en is – nog altyd een van die groot passies in my lewe. So te so dat my kleindogter nou die dag vir my sê "maar oupa het ʼn biblioteek se sportboeke".

Dit laat my terugdink aan ʼn dag in September 1977 toe ek die passie van my onverwags moes toepas.

Ek was aan die werk in die sportkantoor. Rustig en sonder probleme. Die krieketseisoen was om die draai en daarmee saam "scoops"en goeie krieket.

10.10.24

Wat is die storie agter dié foto?

KOBUS BOTMA skryf: EK was ʼn fotograaf by Die Transvaler in die jare '76 tot '78, in die ou Perskorgebou in Doornfontein. Iewers in '78 het ek oorgeskuif na The Citizen, tot einde '79.

By Die Transvaler het ek saam met ouens soos Wessel Oosthuizen, Pierre Oosthuizen, Nick van der Linde, Jack Fenix, Johan van Zyl, Glen Lamprecht en Mack van der Walt gewerk. Al was van die ouens òf Transvaler- òf Vaderland-fotograwe, het ons dieselfde donkerkamers gedeel, en baie saam gewerk.

Ek hoop julle kan my help met ʼn foto hieronder wat deur Jack Fenix van Die Vaderland geneem was, in '76 of '77. 

25.9.24

My dwaling met Wonder Woman

PIETER ROOTMAN skryf: IN die bietjie meer as twee jaar wat ek by die middagkoerant, Hoofstad, gewerk het, het dit letterlik krioel van die skrywers daar. En nie sommerso skrywers nie. Bekroonde skrywers en liedjieskrywers wie se name voortleef in die volksmond. PG du Plessis is redakteur. Adriaan (Attie) Snyman werk deeltyds as taal- en bladversorger (sub) van die sportblad, Koos du Plessis werk vir ʼn wyle as taal-en bladversorger van die nuusblaaie en Jeanne Goosen is die baas van die vroueblad.

19.9.24

Met ʼn pak Vaderlande op my rug – 47 jaar gelede

HEINRICH SCHULZE skryf: BELOFTES maak skuld. Karin Pretorius het my reeds knap ná die Covid-19-pandemie aangepor/aangespreek om iets oor my dae as “Perskorwerknemer” vir K’rant te skryf.

Vandag poog ek om my skuld te vereffen.

Ek was in 1977 ʼn Perskorwerknemer. Alhoewel nie een van julle my geken het nie, het ek julle en die Perskorkoerante goed geken.

14.9.24

Oudredakteur van Tempo oorlede

JOE VAN BUUREN skryf: ALWYN STRYDOM, destyds lid van Die Transvaler se redaksie, is Woensdag 11 September, op Willowmore in die Oos-Kaap dood. Hy was 72.

Wyn sal veral onthou word vir sy gemoedelikheid en voorliefde vir ʼn lekker partytjie, waar hy en André Pienaar, ook reeds saliger, hulle kollegas met hul uitbundige ghitaarspel vermaak het.

9.9.24

Die Transvaler gedigitaliseer

11 November 1974
Is jy ‘n voormalige verslaggewer van Die Transvaler wat al gewens het jy kan weer jou berigte van destyds lees. Dis nou moontlik.

Klik op https://gpa.eastview.com/dtsa/. Sleutel jou naam of enige ander woord tussen aanhalingstekens in en siedaar, daar’s almal.

Op hierdie webwerf is al Die Transvalers van 1938 tot 1987 volledig gedigitaliseer.  Volgens die webwerf is daar altesame 14 988 eksemplare van die koerant, bestaande uit 310 135 bladsye.

As voorbeeld kan genoem word dat 477 berigte onder die naam Gerhard Burger gevind is.

13.8.24

Essie: "Daar was nooit nukke of buie of ego nie"

PEET VAN STADEN skryf: LAG was maklik … of Essie Esterhuizen in die kantoor, die persbank of op die hoë stoeltjie langsaan in Vegkop was.

Maar dis nou moeilik om oor hom skryf, want Essie was ʼn merkwaardige mens, ingewikkeld in sy oënskynlike eenvoud. Daar was nooit nukke of buie of ego nie. As sportskrywer was hy geen grap nie. Hy was in werklikheid een van die spesiale sportskrywers – en ménse onder hulle – in wat toenemend lyk na die laaste betekenisvolle halfeeu van Afrikaanse sportskrywers.

 Johan Esterhuizen is Dinsdag, 6 Augustus op Ballito dood ná ‘n kort siekbed, soos syverwant Emile Smith in K’rant geskryf het. Hy het die vorige dag 76 geword. Eers washy tennisskrywer by Hoofstad en Die Transvaler, en het daarna veral as krieketskrywer by The Citizen en Rapport naam gemaak. Hy was sportredakteur van The Citizen, en het ook uitvoerig oor boks en rugby geskryf.

7.8.24

Vermaarde krieketskrywer oorlede

PHILIP DEETLEFS laat weet dat Johan (Essie) Esterhuizen, vermaarde krieketskrywer van Hoofstad, Die Transvaler, The Citizen en Rapport, vanoggend oorlede is.

Essie
Hy was eweneens ʼn gerekende rugby- en boksskrywer.

EMILE SMITH EN FAMILIE skryf: Oom Johan (Essie) is Sondag, 28 Julie 2024, in Netcare Balitto opgeneem met ʼn bloeiende maagseer wat gebars het. Hy is daarna vir ʼn noodoperasie teater toe gevat. Hulle het toe hulle skoonmaak bevestig dat hy maagkanker het. Hy is uit die teater na die waakeenheid oorgeplaas, waar hy op ʼn ventilator was. Oom Johan het gister, Sondag 5 Augustus, verjaar en is dus die volgende dag op 76 oorlede. Sy organe het baie swaar getrek en sy hart het vanoggend gaan staan. 

Sy suster Joey se dogter Rika en háár dogter was by hom en hy was nie alleen nie. Die res van die familie moes terugkeer Vrystaat toe omdat hulle Maandag weer moes werk. 

  • Emile is ʼn kleinseun van Rika. -- Red.

2.8.24

GPS kelder langpad-sending

KARIN PRETORIUS skryf: DIS nou ‘n verrassing om te hoor dat my bywoning uit die Kaap van die Perskor-reünie op 19 Mei 2024 in Johannesburg die verste is wat nog vir die byeenkoms gereis is, behalwe vir Joe Venter van Bloemfontein af.

Met my vlug na Johannesburg was ek op ‘n ernstige sending, want daar was twee dinge wat ek graag aan redakteur Harald Pakendorf wou sê: ons het mekaar in 1981 – 43 jaar gelede – laas gesien en dit was met die ‘wêreldscoop’wat ek aan Die Vaderland besorg het met ‘n groot storie uit die Rhodesiese bosoorlog van daardie jare.

12.7.24

Uitweg uit Unisa-doodloopstraat

KARIN PRETORIUS skryf: EK skryf met betrekking tot Andries Burger se navraag op K’rant en die redakteur se opmerking.

Ek het die voorreg gehad om As Burger in 1972 te ontmoet toe hy by ons op die plaas naby Swartruggens kom kuier het. Dit was tydens die Vonsteen-verhoor en my man, Kas van den Bergh, was besig om ʼn boek daaroor te skryf. Hy het adv. Burger oorgenooi om gedagtes met hom oor die verhoor te wissel. 

3.7.24

Hulp met berigte oor adv. As Burger gevra

ANDRIES BURGER, seun van advokaat As Burger skryf: my pa is dié week oorlede.  Hy sou volgende maand 85 gewees het. Ek probeer ou koerantberigte oor hom kry en vra hulp.

Ek weet daar was destyds berigte oor van die hofsake waarin hy opgetree het, soos die Frans Vonsteen-verhoor in 1972.  Daar was ook berigte/artikels oor die moderne vyfkamp waarin hy 'n Springbok was.  

Ek sukkel om iets te vind, veral omdat ek in Melbourne, Australia woon. Het u dalk toegang tot argiewe of hulp hiermee? Hierby is 'n skets van Len Lindeque wat na an my pa se hart was.  Dit het op 16 Maart 1969 in Dagbreek verskyn.

27.6.24

Rapport maak wéér (vir oulaas) opslae

‘n Aankondiging is vroeër vandeesmaand met groot verbasing bekend gemaak dat onder meer Rapport gaan sluit.  Net so was dit  in 1970  ‘n groot verrassing toe aankondig is  dat die destydse Dagbreek en Die Beeld  (nie Beeld nie) gaan amalgameer om Rapport te word.

JOHAN VOSLOO, tóé nog sportverslaggewer by Dagbreek het in Hanekraai, personeelblad van die Afrikaanse Pers Beperk (APB), vertel van sy ervarings toe hy en sy kollegas op 29 Oktober 1970 gehoor het van dié samesmelting.  Dit is later in K’rant opgeneem.  Klik HIER om sy storie te lees.