Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

30.9.25

Twee groot bome val in die Perskor-bos

GERT VAN ROOYEN, koerantman en akademikus, skryf: DIE afgelope maand is daar twee groot bome in die Perskor-bos gekap toe éérs Philippa Breytenbach en toe David van Rooyen oorlede is.

PHILIPPA BREYTENBACH is op 4 September aan ʼn hartdefek in Johannesburg oorlede, drie dae voor haar 90e verjaarsdag. Sy het grootgeword in Frankfort en Alberton en in die Lambton-skool in Johannebsurg matrikuleer. Ná matriek het sy ʼn diploma in joernalistiek by die destydse Witwatersrandse Kollege vir Tegniese Onderrig verwerf en in die vyftiger jare by die SAUK se musiekafdeling begin.

In die vroeë sestigs begin Phillipa by TRUK te werk as skakelbeampte en dit is hier waar sy haar kennis van musiek, ballet, opera en ander kunste opgeskerp het. In 1967 begin sy as kunsverslaggewer by Die Transvaler, waar sy dan later ook kunsredakteur word. Nadat Die Transvaler in 1987 ʼn Pretoriase middagkoerant geword het, is Phillipa Die Vaderland toe, waar sy ook kunsredakteur was. Nadat Die Vaderland ook toegemaak het, is Phillipa weer SAUK toe en het daarna by die Stadskouburg skakelwerk gedoen. Sy het daar afgetree en nog vrykskutwerk gedoen.

PHILLIPA BREYTENBACH (tweede van regs) met Wouter de Wet, ook 'n oud-kollega wat saam met haar op die kunsredaksie was, (tweede van links). Die ander is SAUK-radiomense wat saam met Phillipa-hulle KKNK toe was. (Foto: Gert van Rooyen)

Philippa was ‘n merkwaardige mens wat as een van die doyens van  kunsresensente in Suid-Afrika bestempel kan word. Sy was nie een vir wie jy in n blik kon druk nie. Sy was vurig, maar reguit. "Phillipus", soos haar familie en vriende haar genoem het, het in haar loopbaan skouers geskuur met vele beroemde kunstenaars, nasionaal en internasionaal, onder meer Mimi Coertze.

Phillipa was nooit getroud nie en word oorleef deur haar susters Anke, Babs en ʼn broer Willem.

DAVID VAN ROOYEN is op Maandag 15 September in George oorlede ná ‘n hewige stryd met kanker. Hy was in sy joernalistieke loopbaan eers ‘n fanatiese sportskrywer en later een van die hoogsaangeprese sakejoernaliste in Suid-Afrika.

Ek persoonlik het David geken op die PUK, waar ek, hy, en die oorlede  atletiekskrywer van die destydse Transvaler en later Rapport, Johan van Wyk, saam in dieselfde koshuis was. Dáár het David al sy liefde vir rugby gehad toe hy deel was van die PUK se koshuisrugbyliga, waar hy die wedstrydreëlings behartig het. Hy het ook dikwels Perskor-rugby- en krieketspanne bymekaar geskraap en sosiale wedstryde teen onder meer Beeld, SAUK, SA Brouery, ens. gereël.

DAVID VAN ROOYEN en sy vrou, Gladys. (Foto: Rapport)

David het sy sportjoernalistieke loopbaan in 1971 by die Klerksdorp Rekord begin en in 1974 by Die Vaderland se sportredaksie aangesluit. Hy is kort daarna aangestel as sportredakteur. Dit is waar ek weer noue kontak met David gehad het toe ek as atletiekskrywer by  Die Vaderland aangestel is. In 1987 word hy as nuusredakteur van Naspers se drie dagblaaie aangestel en later was hy ‘n senior lid van Sake24.

Met sy aftrede in 2014 was David sakeredakteur van Rapport. Daarna het hy en sy vrou, Gladys, ‘n gastehuis in Melville bedryf. Hy het as vryskut dikwels oor sakebedrywighede geskryf.

Wat baie mense dalk nie geweet het nie was dat David ook in die musiekwêreld betrokke was toe hy die sangpaar Cora-Marie en Kupido se bestuurder was!

David was die ware gentleman en ʼn saggeaarde mens. Ek het hom bitter min sien kwaad word en hy het sy werk met presisie en oorgawe gedoen.

Rus in Vrede ons twee oudkollegas. Julle altwee was formidabele mense!

GERHARD BURGER, koerant- en tydskrifredakteur, skryf: DAVID, wie se naam as Dawid uitgespreek is, het van Potch af in Die Vaderland se sportredaksie beland in die dae toe Joe Venter, Jaap Swanepoel, Willie Roux, Peet van Staden, Harry Lombaard en Carl Köhler bekendes in die bedryf was.

Hy het ʼn verbasende kennis van verskeie sportsoorte gehad, want hy het baie gelees en min gepraat. En minder bier as party sy van nuwe kollegas gedrink.

Hy het ʼn voorliefde vir gholf gehad gehad en gou gesaghebbend daaroor geskryf, veral omdat hy so deeglik “huiswerk” gedoen het – ʼn kenmerk van sy hele loopbaan.

Toe hy as jong alleenloper skielik hospitaal toe gestuur is om sy blindederm te laat verwyder, is hy gedwing om, pleks van alleen in sy woonstel te gaan aansterk, vir ʼn week of wat by die sportredakteur en sy gesin te gaan intrek.

Dit is waar tannie Rachel Makaya hom help versorg het. Een aand kom vra sy half bekommerd: “Meneer, dié man loop hier rond en dan steek hy vas en dan buig hy so effens en dan swaai met sy hande so-so en weer ... ”

“Rachel,” beduie ek, “hy oefen gholf. Hulle noem dit ‘putting’. Hy oefen kastig om die bal met ʼn stok in ʼn gaatjie in te rol.”

Omdat Die Vaderland gesoute sportskrywers vir die vernaamste ‘beats’ gehad en internasionale sport skaars geraak het, het David sy vlerke begin sprei en uiteindelik as finansiële joernalis uitgestyg. Hy het, dink ek, ook ʼn stewige rol in die bemarking van Afrikaanse musiek gespeel.

Waar hy ook al in sy loopbaan geloop het, het dié lang man hom as ʼn staatmaker onderskei, met sy gesonde oordeel en ernstige benadering vriende gemaak en belangrike mense beïndruk.

En almal sal daardie glimlag onthou wat so ʼn deel van sy persoonlikheid was.

MAGNUS HEYSTEK, beleggingstrateeg, skryf: 

EK dink die een karakteristiek wat  veral uitgestaan het van David was sy rustigheid in die warboel van nuusflitse wat soos kartetse die heeldag op onverwagte plekke ontplof het. Dis soos ek hom in die sportjoenalistiek geken het—waar ek ook n paar jaar by Beeld was — en toe later in die finansiele joernalistiek, waar ons albei beland het.

Ek dink nie ek het David ooit ʼn vloermoer sien gooi nie — hy was altyd in beheer van sy emosies en selfs onder intense spanning van spertye en om ʼn "quote" van iemand skaars in die hande te kry, was hy die toonbeeld van rustigheid.  Sy beriggewing was altyd gebalanseerd en het beide kante van enige storie met dieselfde waardigheid aangebied – iets wat vandag in ʼn era van "advocacy journalism" erg ontbreek.


ELMA POTGIETER
, aktrise en skrywer, skryf: Ek het as BA-gragadueerde student, wie se enigste doel was om op die verhoog te speel, in 1968 by Die Transvaler se Jan van Rooyen (hoofredakteur) se deur gaan aanklop vir werk as verslaggewer/joernalis in Johannesburg.

Hy het my die Bybelvers en Mense (se doen en late) opgelê en ná twee maande my na Phillippa Breytenbach en Igna Wessels gestuur om te help op die Kuns- en Vroueblad.

Ek was effe lugtig vir Phillippa, maar ek het haar tegemoetkomend en sonder fieterjasies gevind. Ek het haar opdragte met volle oorgawe (en aanhoudende vrae) uitgevoer – toneel, opera en ook ballet het alles binne my belangstellingsveld geval.

Ons twee het baie gou dikwels saam na opvoerings en rolprente gaan kyk en my kennis is merkwaardig uitgebrei op vlakke wat my nie beskore sou wees as ek direk ná universiteit verhoog toe sou gaan nie.

Phillippa se kennis van haar vak het my deurlopend beïndruk.

Phillippa, ek is bly ek kon jou "toevallig" 'n paar maande gelede raakloop in die nuwe hospitaal in Northcliff, Johannesburg. Ons het gesels soos destyds.

Jy is nog steeds die reguit maar terselfdertyd tegemoetkomende mens wat ek in Die Transvaler in Johannesburg se kantore die voorreg gehad het om te leer ken en waardeer. 

Dankie Phillippa vir jou kennis en insig wat jy so mildelik gedeel het met 'n groentjie-verslaggewer en latere toneelspeler.

Ek sal jou altyd hoog ag.

JAKKIE GROENEWALD, akteur, talentslyper en taalversorger, skryf: Toe Phillippa kunsredakteur van Die Transvaler was en ek kunsredakteur van Die Vaderland, het ons soms meningsvers kille gehad in ons sienings/interpretasies van sommige toneelstukke/rolprente, maar sy was bekend vir haar hardekwasheid en sonder om rusie te maak, het ons ons verskille oor verskeie glasies wyn gemoedelik uitgesorteer.

Ná die samesmelting van die twee koerante was sy die TV-redaktrise en ek die kunsredakteur, so derhalwe het ons “onderonsies” tot ‘n einde gekom.

In daardie stadium het ek heelwat oorklanking vir die SAUK gedoen en in die SAUK-wandelgange het ek gereeld gehoor hoe van die SAUK-werknemers en TV-akteurs hul heilige vrees uigespreek het as hulle met haar ʼn onderhoud moes voer. Tog het  hulle groot resepek vir haar gehad, al het sy hulle soms aan die kort haartjies beetgekry.

PIET EBERSÖHN skryf: OP die oog af kon ʼn mens jou kwalik twee meer uiteenlopende persoonlikhede indink: Phillippa vurig, soms selfs moeilik; David bedaard, een van die min ware here wat ek in die joernalistiek raakgeloop het.

Daar was egter ook sterk ooreenkomste tussen die twee: elkeen ʼn meester van sy vak, hul kennis daarvan grondig; albei met ʼn toewyding en werkvermoë wat ʼn mens selde sien.  

As die mees junior sub om die tafel moes ek aanvanklik die oggendskof onder Vernon Marais se wakende oog aandurf – en hy kon nie wag om Phillipa se kuns- en vermaakbladsy aan my oor te dra nie. Die hoofartikelbladsy en die naas-HAB het mos darem voorkeur op sy ervare hand gehad.

Ek was net lank genoeg by Die Transvaler om goed lugtig vir Phillippa te wees, maar genadig het ons heel goed klaargekom en is ek slegs een keer deeglik geskrobbeer – die dag toe ek en Wouter de Wet ʼn kunstige gesigfoto oor drie kolomme gebruik het en dusdoende “kosbare plek op die bladsy vermors het”.

Kort voor lank het ek selfs die “byvoordeel” geniet om kabaretresensies vir Phillippa te doen wat selfs my musieksmaak help verbreed het, met dié dat ek via ʼn tannie Taubie Kuschlik-produksie met Jacques Brel se musiek kennis gemaak het en dit sedertdien steeds waardeer.

David, op sy beurt, het my die eerste geleentheid gebied om vir ʼn dagblad oor ʼn provinsiale rugbywedstryd te berig. Hy het nie genoeg mense gehad om ʼn wedstryd te dek nie en my gevra om te help. As vurige Griekwa-ondersteuner, gebore en getoë, kon ek nie die geleentheid versmaai om ʼn wedstryd tussen “my” span en Suidoos-Transvaal op Kimberley by te woon nie.

Ek en Christo Lemmer, vir Die Transvaler, pak toe die pad na die De Beers-stadion per trein aan. Perskor het ons elkeen van ʼn retoerkaartjie vir die rit voorsien. Saterdagaand stel ons vas dat die eersvolgende trein van Kimberley af Johannesburg eers Sondagaand loop – en ons moet albei al die middag by ons onderskeie subtafels inval.

Gelukkig was daar destyds nog goeie Samaritane. Griekwas se spandokter, dr Clyde Keevey, het my en Christo lughawe toe gevat, die kaartjies betaal en ʼn tjek van my vir die bedrag aanvaar en ek en Christo was Sondag op ons pos. 

Wil jy glo dat ʼn joernalis destyds nog sommer so ʼn tjek vir twee vliegkaartjies kon uitskryf. R30 draai in my kop rond, maar ek kan nie onthou of dit vir een of albei was nie.

Ek het ook ná my koerantloopbaan met David te doene gekry. As skakelman, met hom as redakteur, het hy altyd ʼn gewillige oor vir my stories gehad en as kunstenaarsagent was sy diens uiters bekwaam.

Maar David het ook vir een van my min “hoogtepunte” op die krieketveld gesorg. Die Transvaler het op John Orr se veld teen Die Vaderland gespeel. DT het ʼn knap span gehad en daar was nooit plek vir my nie. Ek is darem toegelaat om die telling te hou.

Dié dag was daar genoeg van die DT-spanlede onbeskikbaar sodat ek wel plek gekry het, sonder enige getuienis van talent vir enige ander aspek van die spel. David en sy makkers, maar veral David, boul DT aan flarde, nie een van ons haal dubbelsyfers nie.

Dalk het David-hulle moeg begin raak, maar die laaste twee DT-kolwers vaar die beste met nege lopies elk; ek en Jakkie Groenewald (hy, nie uit nie).

En DT kies my wragtie nooit weer nie ...

1.9.25

Martin Williams van The Citizen oorlede

SIPKE DE VRIES het laat weet dat Martin Williams gister oorlede is. Hy was 73 jaar.

Martin was tot sy aftrede redakteur van The Citizen nadat hy van Johnny Johnson oorgeneem het. 

Hy was ook jare lank voorsitter van die Johannesburgse persklub waar ek en hy baie vreugde beleef het.  

Hy het later die DA se raadslid vir Sandton geword.


14.5.25

REÜNIE 2025: GEBORG DEUR DAGBREEKTRUST


Dis weer tyd vir lekker kuier by ons volgende reünie van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers (dis nou APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens). Die reëlingskomitee, onder leiding van voorsitter Harald Pakendorf en bygestaan deur sy gade Aletta, Louise Blake en Madelaine Page, het besluit om vanjaar weer ‘n funksie by dieselfde restourant as tevore – die Irish Rock - te hou. 

Die saamtrek vind op Sondag, 25 Mei 2025, plaas. Die ete begin stiptelik om 12:30. Kom van 11:30 af en kuier eers lekker saam. Daar is ‘n kontantkroeg. Die Irish Rock se buffet bied bief bourguinon, oondgebraaide hoender, rys, patats, roomspinasie, geelwortels en Griekse slaai. Vir nagereg, sjokolade bruintjie en roomys, of malvapoeding en vla.

12.5.25

Op soek na Hermie Hendriks se dogter, Hermien, i.v.m. boeke

Hermie Hendriks
PIETER HAASBROEK skryf: My voltydse werk is om ou storieboeke van FA Venter, Gerrie Radlof, Braam le Roux en vele ander weer die lig te laat sien, deur die boeke as e-boeke uit te gee op Amazon, Google en ander platforms, in Afrikaans en Engels.

Ek het reeds meer as 230 boeke van bv. Die Sahara Avontuur reeks, Swart Luiperd Reeks, Oloff die Seerower reeks en andere uitgegee.

Ek weet dat Hermie Hendriks op 25 Junie 2020 oorlede is en sal baie graag met sy dogter wil kontak maak oor haar pa se Diamantveld Avontuur reeks van 12 boeke wat hy geskryf het.

Ek sal dit dus hoog op prys stel indien julle my Hermien se e-pos en/of foonnommer kan gee om haar te kontak.

My eie webwerf waar ek die eboek reekse verkoop is https://panther-ebooks.com 
en op Amazon sal die e-boeke wat ek uitgegee het, opgespoor kan word deur bv. my naam "Pieter Haasbroek" in amazon.com in te tik.

Laat weet my asseblief of julle my dalk kan help.Ek sal dit hoog op prys stel.

Groete uit die Strand in die Weskaap.