Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.6.23

Die drie Venter-skrywers van Republikeinse Pers

KAREN PRETORIUS
skryf: Daar was in die jare sewentig nie een nie, ook nie twee nie maar DRIE befaamde Venter-skrywers by Republikeinse Pers met wie ek die redaksiekantoor in Nedbank City East in Doornfontein gedeel het.
C. J. (Corrie) Venter was die redakteur van Radio en TV Dagboek en ook gewilde en bekende fiksieskrywer van romans, en radio- en tydskrifverhale;
Paul C. Venter, toe redakteur van die tydskrif, Keur, en wat vandag nog besig is as draaiboekskrywer vir televisiereekse en -rolprente; 
Al J. Venter, ʼn redaksielid van Scope wat ʼn legende is as oorlog-joernalis en steeds in die wêreld se konfliksones verslag doen.

Om so nóu saam met hierdie drie skrywers te gewerk en gedagtes te verwissel het, was ʼn groot voorreg en ʼn goeie leerskool vir ʼn joernalistieke loopbaan.

Olympia-tikmasjien.
Die twaalfde verdieping van Nedbank City East was ʼn miernes van bedrywighede soos redaksielede van twaalf tydskrifte van RP elk sy regmatige plek in die beskikbare kantore ingeneem het: Rooi Rose, Radio en TV Dagboek, Keur, Scope, Garden and Home, Family, Radio en TV, Darling, Living & Loving, Your Family, Pesonality, Bona en Farmer’s Weekly.

Die gekletter van tikmasjiene was van vroegoggend tot laat namiddag nooit stil nie.

Die bemarkingshoof Terry Moolman was rusteloos agter sy lessenaar en het pal in die gang tussen sy kantoor en díe van sy sekretaresse en assistent met dokumente in die hand beweeg met telefone wat links en regs lui – ʼn baie bedrywige besigheidsman.

Corrie Venter het my in 1977 by Radio en TV Dagboek aangestel en ek sou die helfte van die tyd op die redaksie van Rooi Rose dien. Hy was ʼn gemoedelike en vredeliewende redakteur maar, o wee, as “tant” Bybie Hyman te veel Rooi Rose-stories opeis, het sy wenkbroue omhoog geskiet en het die grysblou oë gevaarlik geflits.

Die eerste les wat ek by my redakteur geleer het, was ʼn “ontgroeningsles” wat my nou nog bybly: moenie dat jou omgewing of ongemaklike omstandighede jou afskrik van jou storieskryf nie. Bly net gefokus en gaan aan.

Links:  Artikel oor Rhodesië se Leopard Rock Hotel in die Vumba-bergreeks op die Oostelike Hoogland, vir die Toerismeraad.

Corrie het met die eerste dag van aanstelling, my ʼn skryftafel en ʼn Olympia-tikmasjien in die algemene kantoor gegee en gesê ek moet solank kennis maak met almal, hy sal my later roep om my werk met my te bespreek.

Ek maak kennis links en regs soos hy gesê het, maar wil ook nie almal uit die werk hou met my geselsies nie. Wanneer ek opkyk, stap Corrie in die gang verby, maar verder ignoreer hy my. So gaan die dag verby en met sluitingstyd gaan groet ek ewe hoflik en hy sê hy sal my môre inroep vir bespreking, baie formeel.

Maar dieselfde gebeur die volgende dag – net mooi niks nie. Corrie stap steeds verby, maar ignoreer my.

Teen middagete besluit ek ek bly nie ver nie – by Tygerbergwoonstelle op die heuwel in Berea – en ek gaan my brosjures en kleurskyfies van die Seychelle haal waar ek ʼn paar weke vantevore vakansie gehou het en solank ʼn artikel daaroor skryf. Dalk sal my redakteur daarin belangstel vir publikasie en ten minste hou ek myself besig.

Regs: ’n Boervrou van Bulawayo, Esmé Meyer, is deur terroriste geskiet en terwyl sy sterf, skryf sy boodskappe aan haar kinders.

Wanneer ek die kleurskyfies teen die sonlig by die venster bekyk, vang ek uit die hoek van my oog vir Corrie wat in die gang verbystap, sonder ʼn woord. Die derde dag roep my baas my uiteindelik in na sy kantoor en ek’s maar senuagtig, weet nie wat om te verwag nie. 
 
Hy staan op, hand uitgestrek en sê baie vriendelik: Baie geluk en welkom, jy het jou ontgroening geslaag. Ontgroening? Ja, sê Corrie, met elke nuwe aanstelling deur die jare het ek dieselfde taktiek: Ek gee jou ʼn lessenaar en ʼn tikmasjien en dan ignoreer ek jou vir ʼn paar dae om jou te intimideer en jou te toets. Maar jy het eenvoudig aangegaan met wat jy ook al geskryf het. Dit het nie met jou gewerk nie, glimlag hy. Ek hou van joernaliste wat onafhanklik kan werk en nie geïntimideer word nie, sê hy.

 Links: Falconetti, die gevreesde skurk in TV se “Rich Man Poor Man”, Januarie 1978.

Wat ʼn verligting! En die redakteur het my Seychelle-storie ses weke later gepubliseer met my teen-die-sonlig-uitgesoekte kleurskyfies!

Die tweede les van die redakteur was hoe om die invalshoek van ʼn tydskrifartikel te benader.
Jy kom van die hardenuuswêreld van ʼn koerant, sê hy, waar jy met die berig in die huis val. Tydskrifte verwag ʼn sagter aanslag in die eerste paragraaf, met atmosfeer voor die inhoud volg. En die belangrikste: As jy daarmee sukkel, los die inleiding en skryf die artikel gewoon verder en moenie daar vashaak nie. Kom liewer later terug met jou beskrywende, maar hopelik treffende invalshoek.
Wyse woorde wat my na 46 jaar nog bybly. Ek kan nou nie ʼn storie begin skryf sonder om aan my baas Corrie Venter te dink nie.Volgens inligting het Corrie ʼn lewenslange verbintenis met die perswese gehad . Sy loopbaan het gestrek van 1954 by Die Transvaler, daarna Rooi Rose, Fleur, Dagbreek, in1967 by RP in Durban, Ster, Keur en in 1977 was hy dan ook die stigtersredakteur van Radio TV Dagboek. Daarna was hy hoof-redakteur van die Farmer’s Weekly terwyl hy steeds fiksie aan die meeste Afrikaanse tydskrifte gelewer het wat ook onder meer Die Huisgenoot, Sarie en Die Brandwag ingesluit het.
 
Regs: Keur uit die jare sewentig met Paul C. Venter as redakteur.
Corrie het vroeg in sy loopbaan al begin fiksie skryf en sy eerste kortverhaal het reeds in 1957 die lig gesien en in 1972 is sy eerste roman “Newels van die Nag” gepubliseer.ʼn Rubriek wat hy behartig het, Pyn en Pantoffels is onder die skuilnaam Gustav Q Meiring geskryf, terwyl hy dikwels die naam René Bergh vir sy fiksie in tydskrifte gebruik het.
Hy word vandag nog beskou as een van die mees produktiewe skrywers in Afrikaans. Etlike vervolgverhale, meer as 1 000 kortverhale vir tydskrifte en 40 romans vir uitgewers het uit sy pen gevloei.

Na my “ontgroening” in die algemene kantoor kry ek my eie kantoor en wel langs díe van Paul C Venter, die redakteur van Keur.

Paul was ʼn stil, rustige maar baie besige skrywer, sonder enige fieterjasies en met ʼn lekker sin vir humor. Mens kon enige tyd by hom aanklop vir bietjie hulp hier en daar waar jy vashaak. Hy was ook baie goeie geselskap op die verskeie Afrikaanse rolprentstelle wat ons saam besoek het vir publisiteit in Keur en Dagboek.
 
Links: Kortverhaal in Dagboek onder Corrie se eie naam, C. J. Venter.

Paul wat sy loopbaan in 1964 by Die Vaderland begin het, het later boeke gepubliseer, sy TV-reekse is verfilm en uiteindelik was hy nie net ʼn uitmuntende skrywer nie, maar ook vervaardiger, regisseur en selfs akteur. Hy het in 1979 by RP bedank om heeltyds skrywer te word en het só 25 jaar van sy lewe aan TV-dramas gewy.

Hy is ʼn storieverteller van formaat, met gewilde TV-reekse soos Onder Engele, Arende 1, 2, 3, Konings, Torings, Vlug na Egipte en Terug na Egipte, om maar net ʼn paar te noem.

Sy vingers is steeds baie bedrywig op die rekenaar, en ná sy dramareeks Mooi Weer en Warm wat onlangs op kykNet geeïndig het, gaan dit glo opgevolg word met Straat wat eersdaags vir televisie verfilm word.

Van waar ek in my kantoor gesit het, kon ek in die gang afkyk na die deur waar Al Venter van Scope se kantoor dikwels leeg was vanweë sy swerftogte agter oorloë aan die wêreld oor.

Wanneer hy soms laatmiddag instap in sy khakis met sy Colt-pistool op die heup, kamerasak oor die skouer, was ons as kollegas nogal beïndruk aangesien ons so ver verwyderd was van die wêreld waarin hy gewerk het.
 
Regs:  Kortverhaal in Rooi Rose onder Corrie Venter se skuilnaam, René Bergh.
Ek onthou altyd hoe hy sy magasyn op sy lessenaar leeggemaak het en dan die patrone na ʼn ammunisiewinkel geneem het om herlaai te word. Dit het glo goedkoper uitgewerk as om nuwe patrone te koop, het Al altyd gesê.

ʼn Vrystater van geboorte, het Albertus Johannes Venter die laaste 60 jaar sowat 25 oorloë en revolusies meegemaak in gebiede soos Biafra, Libanon, Nigerië, Gaboen, Rhodesië, Israel, Kongo, Angola, Mosambiek en El Salvador. Hy is al langer as 40 jaar ʼn korrespondent vir Jane’s International Defence Weekly, wat die grootste.militêre inligtingsdiens ter wêreld is.

Hy beskou homself op die ouderdom van 84 as die oudste werkende joernalis wat steeds oorlogsgebiede besoek en daaroor berig, soos onlangs in Mali.

Al glo sy sukses as skrywer lê in die feit dat hy steeds baie fiks is en op die hoogte bly van moderne taktieke en wapens wat deel van sy lewe is. Hy is ook ʼn dokumentêre filmmaker en het meer as 40 boeke gepubliseer waarvan die nuutste sy outobiografie, Takka Takka Bom Bom, van meer as 450 bladsye is. 

Hy het sy boek in Desember in Suid-Afrika kom bemark en aangesien ons nog e-poskontak het, het ek die vrystelling in die Kaap bygewoon.

Links:  Die Rhodesiese minister PK van der Bijl se troue met prinses Charlotte van Oostenryk – ʼn wêreldscoop vir Rooi Rose.

 
Hy woon op die Britse platteland in Surrey en Al sê hy’t nog drie boeke om te skryf voordat hy finaal aftree.

Tydens my werk by TV Dagboek, en vanweë my konneksies met die ou Rhodesië, het die Rhodesiese Toerismeraad my eenkeer vir ʼn maand na hul land genooi vir ʼn bemarkingsveldtog om publisiteit te verleen aan ʼn sanksie-geteisterde land.

Skeppende mens wat Corrie was, het hy jou vrye teuels vir die skryf van artikels gegee en ʼn maand weg van my lessenaar was vir hom nie te lank nie – mits ek kon terugkom en produseer.

Ek het sowat ses voornemende stories vir Dagboek aan hom voorgelê, twee vir Rooi Rose en een vir
Garden and Home. Die stories het gestrek van die suide in Rhodesië se Oostelike Hooglande in die Vumbaberge digby die Mosambiekse grens, tot in die noorde by die Karibadam, Wankie-wildreservaat en Victoriawaterval. Corrie was tevrede met my voorlegging.
Só het my redakteur my loopbaan met sy steun ʼn hupstoot gegee wat my blootstelling en ʼn wye ervaringsveld gebied het.

Toe ek 18 maande ná my aanstelling in 1978 by Corrie se deur aanklop met die ongewone versoek of hy my sou ondersteun met ʼn oorplasing na die oorloggeteisterde Rhodesië vir verslaggewing, was daar vir ʼn oomblik skrik op sy gesig. Tog het hy my geesdriftig ondersteun. 

Regs: Die spoghotel Caribbea Bay aan die Karibadam, spesiaal vir die Rhodesiese Toerismeraad.

Ons het saam die Hyman-base van Mobeni genader met “oom” Boet wat kalm en beredeneerd onderhandel het, “tant” Bybie wat haar nie kon indink aan ʼn vrou in die oorlog nie en Willem wat as streng bestuurder vereistes gestel het: RP wil nie graag verantwoordelikheid vir my veiligheid neem nie en hulle stel voor dat ek liewer bedank terwyl RP bereid is om my op ʼn maandelikse onkostetoelaag te plaas. 
RP sal al die films wat ek benodig voorsien en dit ontwikkel wanneer nodig, het Willem bygevoeg. Die films was ʼn groot toegif aangesien dit onverkrygbaar in Rhodesië was.

 
Bo:  Die voor- en agterblad van Al J. Venter se outobiografie, “Takks Takka Bom Bom”, wat in Desember in die Kaap bekend gestel is.
 
Ek het alles in my Berea-woonstel opgepak en teen Julie 1978 het ek in die pad geval Messina toe en die Beitbrug.

Ek het met groot hartseer my baas Corrie Venter gegroet en hom nie weer gesien nie, want toe ek vier jaar later in 1982 vanuit Rhodesië terugkeer, het ek by die tydskrif Panorama in Pretoria aangesluit en in 1988 Kaap toe getrek.

Ek het later verneem dat Corrie Venter in 2006 oorlede is.