Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.2.19

Sportredakteur Phil Zaayman oorlede

PHIL ZAAYMAN, ʼn voormalige sportredakteur van Rapport, is Maandagoggend vroeg op Hermanus oorlede. Hy was 78 jaar oud.

As rugby- en boksskrywer was Phil een van die bekendste sportjoernaliste in Suid-Afrika. Hy was die afgelope maande siek en is in ʼn sorgeenheid naby hul huis oorlede. Hy laat sy vrou, Louise, en twee kinders, Phil Jr en Liezel, na. Die foto’s hieronder van Phil het ons op Facebook raakgeloop wat Wessel Oosthuizen geplaas het. Hy het menige keer Phil op sportbyeenkomste as fotograaf vergesel.

GERHARD BURGER, gewese sportredakteur van Die Vaderland en latere redakteur van Transvaler, skryf: Ons twee het in die vroeë jare sestig saam by Die Oosterlig in Port Elizabeth begin werk, waar hy met ʼn spoggerige Volvo Sport baie aandag getrek het. Dit is ook waar hy sy Louise ontmoet het.

Ons het kort ná mekaar “Transvaal toe” getrek, is kort ná mekaar getroud en het vir verskillende koerante téén mekaar gewerk, maar goeie vriende gebly.

Phil Zaayman
Phil was, ten eerste, ʼn goeie koerantman wat met ʼn lang lys scoops agter sy naam afgetree het. Een daarvan was ʼn eksklusiewe onderhou met die Nieu-Seelandse eerste minister, Rob Muldoon voor ʼn toetsreeks tussen Suid-Afrika en die All Blacks.

Maar vir ʼn klomp gewese joernaliste was Phil (ook bekend as Fiela en Zaay)bowenal ʼn gewaardeerde vriend en kollega met ʼn aansteeklike humorsin en ʼn verbasende breë algemene kennis.

Phil en sy draagbare tikmasjien.
Ons het later saam met ʼn hele paar internasionale rugbyspanne getoer. Op een van dié toere, in 1981 saam met Wynand Claassen se Springbokke in Nieu-Seeland, het die polisie sy draagbare tikmasjien met plofstof vernietig nadat hy dit in die portaal van ʼn hotel in Nelson laat staan het. Niemand het geweet of dit dalk ʼn bom kon wees nie.

Phil het ook ʼn besondere kennis van boksers en die geskiedenis van boks gehad. Hy het boeke oor ʼn groot aantal onderwerpe gelees en kon geesdriftig oor talle sake debatteer.

Phil, wat vir Noord-Transvaal se laerskolespan senter gespeel het as ek reg onthou, het ʼn benydenswaardige vermoë gehad om mense aan te trek en vriende te maak.

Maar bowe alles sal baie van ons “Die Skraal Man” onthou omdat daar, byna altyd en oral waar hy hom bevind het, so baie en so hard gelag is.