Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

17.9.18

Selfsugtige minister wou in vrede vakansie hou

THIJS NEL, voormalige kunsredakteur van Die Vaderland, skryf: Die gewoel deesdae om toerisme binnelands en vanuit die buiteland te stimuleer, het iewers in die paar grys selle wat ek nog oor het, ‘n onthou-lêer nadergetrek.

Ek was gelukkig om in 1968 vir die eerste keer ‘n oorsese reis te onderneem. Ek was toe nog by Die Vaderland, maar het op die een of ander manier vir drie maande gaan vakansie hou. Eintlik om te ondersoek of ek nie dalk met ‘n sangloopbaan ‘n ander heenkome kon vind nie. Gehoorprobleme as gevolg van outo-schlerose, het egter my droom van ‘n sangloopbaan gekelder met die gevolg dat ander talente, hoofsaaklik skilder, beeldhou, pottebakkery en skryfwerk oorgeneem het.

SAL moes destyds om die
boeg Afrika vlieg.
Saam met my lewenslange vriend, het ons vir ‘n maand deur Europa gereis en vir twee maande in Londen gewoon voor die terugkeer na Suid-Afrika.

Die retoerkaartjie het toentertyd met SAL, R550,00 (!) gekos. Aangesien ons nie oor Afrika kon vlieg nie, was daar 5 stoppe na Londen ingebou via Luanda, Lissabon, Madrid, Rome en natuurlik ook Parys waarheen ek later, nadat ek Die Vaderland verlaat het, teruggekeer het vir verdere studie in oa litografie. En ook as gas van die stad Parys vir twee jaar lank waar ek ‘n ateljee bekom het in die Cité Internationale des Arts voor ‘n verdere drie jaar in Meudon, halfpad trussen Parys en Versailles gewoon en gewerk het.

Daardie eerste reis was vir dié plaasjapie op die ouderdom van 25, ‘n oopskiet ervaring. My verwysingsraamwerk was, om dit lig te stel, die Waterberg, Laeveld, Johannesburg-wêreldjie met vakansies na Kaapstad, Durban en Lourenço Marques en reise na die Krugerwildtuin.

Die heenreis, met verskillende haltes, eers in Luanda, het daartoe gelei dat ons kennis gemaak het met medereisigers wat ons vreemd genoeg, weer raakgeloop het in Lissabon en ook in Madrid.

Prado Kunsmuseum, Madrid.
In Madrid was die trekpleister vir my die Prado Kunsmuseum waar ek totaal omgeklits is deur die Spaanse meesters; Velasquez, Miro en die ongelooflike “black paintings” van Goya. Oomblikke nadat ons deur die saal met daardie donker meesterstukke aanbeweeg het, loop ons vas teen vlugkennisse en ek wou dadelik weet of hulle die Goyas gesien het. Hulle het nie en ek trek hulle met die trappe op of was dit dalk af, na die saal waar hulle met glaserige oë en glad nie beïndruk nie, binne oomblikke nie gou genoeg van my geesdrif ontslae kon raak nie. Hulle het haastig verskoning gemaak en sonder repliek die hasepad gekies. Kuns was duidelik nie hoog op hulle kalender nie.

Dit was vir my ‘n eerste openbaring dat ‘n mens nie jou indrukke of kennis met die meeste mense wat jy in jou lewe ontmoet, kan deel nie. Almal beweeg op verskillende bewussynsvlakke, geskep deur unieke agtergrond, geografies, kultureel en natuurlik ook aan blootstelling, wat ‘n unieke verwysingsveld skep.

Om te kan en mag reis, is sekerlik een van die grootste gawes wat ‘n mens se verwysingsveld verbreed en juis daarom wil almal graag die wêreld verken, soekend na vervulling van menige onvervulbare begeerte.

My eerste reis was inderdaad die belangrikste aangesien dit my verwysingsraamwerk onherroepelik verbreed het, juis in ‘n stadium waar ek ontvanklik was vir groei, nie net intellektueel nie, maar veral omdat dit ‘n ongekende skeppingsdrif in my vrygestel het.

Thijs Nel op sy eerste reis in 1968.
Dit was teater-ervarings, opera, ballet, kunsmuseums, argitektuur en ag, soveel meer indrukke wat vir my eindelose moontlikhede openbaar gemaak het. Moontlikhede wat ontgin kon word en indrukke wat ek met die terugkoms in Suid-Afrika, nie ten volle kon meedeel of weergee nie. Sonder kennis kan daar geen waardering van enigiets wees nie.

Terug by Die Vaderland pleeg ek toe ‘n artikel oor toerisme. In Europa het dit my getref dat toeriste van oor die hele wêreld ongelooflike koste aangaan om verryk te word deur die ervaring van kunsskatte en veel meer: dat toerisme ‘n onuitputlike goudmyn kan word.

Dink net: Reiskaartjies, hotelverblyf, restaurante, toegangskaartjies vir teaters en museums en fooitjies vir toergidse, kelners en al die hordes wat bakhand staan net waar jy jou as toeris bevind. Selfs wanneer jy moers uitgeput op ‘n bankie in ‘n park neersak om jou toervoete ‘n blaaskans te gee, daag íemand terstond op om jou te laat betaal vir die voorreg om te sit en rus.

Die inkomste wat veral museums vir Europa genereer, is gewoon verbysterend. Om ‘n paar voorbeelde te noem: Miljoene toeriste sak jaarliks op die Rijksmuseum in Amsterdam toe om Rembrandt se “Nagwag” te sien en daarnaas die Van Gogh-museum te besoek en na Delft te reis vir die skilderye van Vermeer.

Toeriste by die Rijksmuseum.

Dan nog die ongelooflike blommeprag van tulpe en ander bolplante by Keukenhof in die Europse lente. In Parys is die Mona Lisa in die Louvre en Monet se waterlelies in die Orangerie hoogtepunte en die Picasso-museum in die ou soutpaleis. En niks is verniet nie, daar moet vir alles ten duurste betaal word.

En dan is daar Rome met ‘n besoek aan die Vatikaan om die St Petrus-katedraal en Sisteinse kapel te sien. In 1968 was daar juis ‘n begin gemaak aan die herstel en opknapping van die Sisteinse kapel en was ‘n mens gelukkig genoeg om alles na behore te kon ervaar. Met ‘n tweede besoek in 1971, was daar meer toeriste en met my laaste besoek in 1978, was daar soveel hordes dat ‘n mens soos diere in ‘n drukgang deurgewors is en kon jy kwalik behoorlik asemhaal.

Keukenhof se tulpe.  
‘n Besoek aan Florence is gewoonlik ook nodig om Michelangelo se
meesterstukke, waaronder die beroemde beeld van Dawid, te sien is en daarnaas ook Botticelli se “Geboorte van Venus” in die Ufici-museum. Dan volg Giotto se muurskilderye in Assisi en ‘n besoek aan Venesië waar ieder en ‘n elk die een of ander stukkie glas sal koop.

Terug in Aucklandpark by Die Vaderland had my artikel dit oor die oneindige inkomste wat toerisme vir Suid-Afrika kon in met ons wonderlike blakende somerweer, ons wildtuine en ongelooflike strande, ongeskonde destyds, aangesien daar meesal (nes nog deesdae ook want niks verander eintlik nie?) net op sport gekonsentreer is, word en sal word! En ek moet byvoeg dat daar deesdae natuurlik op die sportfronte heelwat toeriste na Suid-Afrika gelok word, so ook besoeke aan Robbeneiland en die vele wildtuine .

My artikel was geïlustreer met ‘n foto wat ek vanuit die hotelkamer in Venesië van gondolas ( “huurmotors”) geneem het, vlak onder die venster van die hotelkamer waar ek geslaap het.

Myne raak uitgeput.
Die kerngedagte was dat ons goudvelde iewers in die toekoms uitgeput gaan raak en dat toerisme aangewend moes word om valuta van buite ons grense te in: Dit moes nie alleen ondersoek word nie, maar daadwerklik in werking gestel word aangesien dit ook werkgeleenthede kon verskaf.

Nou ja, my opwinding en pragartikel, het my dadelik ín die pekel laat beland. Die koerant was kwalik op straat, toe die telefoon lui en die toentertydse minister van toerisme, “sy edele” minister Johan Van der Spuy (?), indien my geheue my nie in die steek laat nie, my van ‘n kant af roskam oor die k.. idees waarmee ek te koop loop. Hy wou beslis nie hê dat sy kersvakansies bedonner word deur uitlanders wat ons sou oorstroom en ons vreedsame bestaan besoedel met hulle obskure byderwetse invloede nie. Dit moes ten alle koste verhoed word. En daarmee was my opwindende profetiese drome gesnoer.

Die saadjie was egter geplant en deesdae wil dit voorkom asof toerisme wel tot ons redding gaan kom. Dit besit al die moontlikhede om veel meer en veiliger werk te verskaf as om rond te dwaal in goudmyne.

Soms word ‘n saadjie gesaai en al lê dit vir dekades lank onder vrugbare grond, kan ‘n goeie bui reën dit tot ontkieming aanspoor. Nood leer bid en deesdae is die nood baie groot of hoe sê ‘n mens?