Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

30.9.25

Twee groot bome val in die Perskor-bos

GERT VAN ROOYEN, koerantman en akademikus, skryf: DIE afgelope maand is daar twee groot bome in die Perskor-bos gekap toe éérs Philippa Breytenbach en toe David van Rooyen oorlede is.

PHILIPPA BREYTENBACH is op 4 September aan ʼn hartdefek in Johannesburg oorlede, drie dae voor haar 90e verjaarsdag. Sy het grootgeword in Frankfort en Alberton en in die Lambton-skool in Johannebsurg matrikuleer. Ná matriek het sy ʼn diploma in joernalistiek by die destydse Witwatersrandse Kollege vir Tegniese Onderrig verwerf en in die vyftiger jare by die SAUK se musiekafdeling begin.

In die vroeë sestigs begin Phillipa by TRUK te werk as skakelbeampte en dit is hier waar sy haar kennis van musiek, ballet, opera en ander kunste opgeskerp het. In 1967 begin sy as kunsverslaggewer by Die Transvaler, waar sy dan later ook kunsredakteur word. Nadat Die Transvaler in 1987 ʼn Pretoriase middagkoerant geword het, is Phillipa Die Vaderland toe, waar sy ook kunsredakteur was. Nadat Die Vaderland ook toegemaak het, is Phillipa weer SAUK toe en het daarna by die Stadskouburg skakelwerk gedoen. Sy het daar afgetree en nog vrykskutwerk gedoen.

PHILLIPA BREYTENBACH (tweede van regs) met Wouter de Wet, ook 'n oud-kollega wat saam met haar op die kunsredaksie was, (tweede van links). Die ander is SAUK-radiomense wat saam met Phillipa-hulle KKNK toe was. (Foto: Gert van Rooyen)

Philippa was ‘n merkwaardige mens wat as een van die doyens van  kunsresensente in Suid-Afrika bestempel kan word. Sy was nie een vir wie jy in n blik kon druk nie. Sy was vurig, maar reguit. "Phillipus", soos haar familie en vriende haar genoem het, het in haar loopbaan skouers geskuur met vele beroemde kunstenaars, nasionaal en internasionaal, onder meer Mimi Coertze.

Phillipa was nooit getroud nie en word oorleef deur haar susters Anke, Babs en ʼn broer Willem.

DAVID VAN ROOYEN is op Maandag 15 September in George oorlede ná ‘n hewige stryd met kanker. Hy was in sy joernalistieke loopbaan eers ‘n fanatiese sportskrywer en later een van die hoogsaangeprese sakejoernaliste in Suid-Afrika.

Ek persoonlik het David geken op die PUK, waar ek, hy, en die oorlede  atletiekskrywer van die destydse Transvaler en later Rapport, Johan van Wyk, saam in dieselfde koshuis was. Dáár het David al sy liefde vir rugby gehad toe hy deel was van die PUK se koshuisrugbyliga, waar hy die wedstrydreëlings behartig het. Hy het ook dikwels Perskor-rugby- en krieketspanne bymekaar geskraap en sosiale wedstryde teen onder meer Beeld, SAUK, SA Brouery, ens. gereël.

DAVID VAN ROOYEN en sy vrou, Gladys. (Foto: Rapport)

David het sy sportjoernalistieke loopbaan in 1971 by die Klerksdorp Rekord begin en in 1974 by Die Vaderland se sportredaksie aangesluit. Hy is kort daarna aangestel as sportredakteur. Dit is waar ek weer noue kontak met David gehad het toe ek as atletiekskrywer by  Die Vaderland aangestel is. In 1987 word hy as nuusredakteur van Naspers se drie dagblaaie aangestel en later was hy ‘n senior lid van Sake24.

Met sy aftrede in 2014 was David sakeredakteur van Rapport. Daarna het hy en sy vrou, Gladys, ‘n gastehuis in Melville bedryf. Hy het as vryskut dikwels oor sakebedrywighede geskryf.

Wat baie mense dalk nie geweet het nie was dat David ook in die musiekwêreld betrokke was toe hy die sangpaar Cora-Marie en Kupido se bestuurder was!

David was die ware gentleman en ʼn saggeaarde mens. Ek het hom bitter min sien kwaad word en hy het sy werk met presisie en oorgawe gedoen.

Rus in Vrede ons twee oudkollegas. Julle altwee was formidabele mense!

GERHARD BURGER, koerant- en tydskrifredakteur, skryf: DAVID, wie se naam as Dawid uitgespreek is, het van Potch af in Die Vaderland se sportredaksie beland in die dae toe Joe Venter, Jaap Swanepoel, Willie Roux, Peet van Staden, Harry Lombaard en Carl Köhler bekendes in die bedryf was.

Hy het ʼn verbasende kennis van verskeie sportsoorte gehad, want hy het baie gelees en min gepraat. En minder bier as party sy van nuwe kollegas gedrink.

Hy het ʼn voorliefde vir gholf gehad gehad en gou gesaghebbend daaroor geskryf, veral omdat hy so deeglik “huiswerk” gedoen het – ʼn kenmerk van sy hele loopbaan.

Toe hy as jong alleenloper skielik hospitaal toe gestuur is om sy blindederm te laat verwyder, is hy gedwing om, pleks van alleen in sy woonstel te gaan aansterk, vir ʼn week of wat by die sportredakteur en sy gesin te gaan intrek.

Dit is waar tannie Rachel Makaya hom help versorg het. Een aand kom vra sy half bekommerd: “Meneer, dié man loop hier rond en dan steek hy vas en dan buig hy so effens en dan swaai met sy hande so-so en weer ... ”

“Rachel,” beduie ek, “hy oefen gholf. Hulle noem dit ‘putting’. Hy oefen kastig om die bal met ʼn stok in ʼn gaatjie in te rol.”

Omdat Die Vaderland gesoute sportskrywers vir die vernaamste ‘beats’ gehad en internasionale sport skaars geraak het, het David sy vlerke begin sprei en uiteindelik as finansiële joernalis uitgestyg. Hy het, dink ek, ook ʼn stewige rol in die bemarking van Afrikaanse musiek gespeel.

Waar hy ook al in sy loopbaan geloop het, het dié lang man hom as ʼn staatmaker onderskei, met sy gesonde oordeel en ernstige benadering vriende gemaak en belangrike mense beïndruk.

En almal sal daardie glimlag onthou wat so ʼn deel van sy persoonlikheid was.

MAGNUS HEYSTEK, beleggingstrateeg, skryf: 

EK dink die een karakteristiek wat  veral uitgestaan het van David was sy rustigheid in die warboel van nuusflitse wat soos kartetse die heeldag op onverwagte plekke ontplof het. Dis soos ek hom in die sportjoenalistiek geken het—waar ek ook n paar jaar by Beeld was — en toe later in die finansiele joernalistiek, waar ons albei beland het.

Ek dink nie ek het David ooit ʼn vloermoer sien gooi nie — hy was altyd in beheer van sy emosies en selfs onder intense spanning van spertye en om ʼn "quote" van iemand skaars in die hande te kry, was hy die toonbeeld van rustigheid.  Sy beriggewing was altyd gebalanseerd en het beide kante van enige storie met dieselfde waardigheid aangebied – iets wat vandag in ʼn era van "advocacy journalism" erg ontbreek.


ELMA POTGIETER
, aktrise en skrywer, skryf: Ek het as BA-gragadueerde student, wie se enigste doel was om op die verhoog te speel, in 1968 by Die Transvaler se Jan van Rooyen (hoofredakteur) se deur gaan aanklop vir werk as verslaggewer/joernalis in Johannesburg.

Hy het my die Bybelvers en Mense (se doen en late) opgelê en ná twee maande my na Phillippa Breytenbach en Igna Wessels gestuur om te help op die Kuns- en Vroueblad.

Ek was effe lugtig vir Phillippa, maar ek het haar tegemoetkomend en sonder fieterjasies gevind. Ek het haar opdragte met volle oorgawe (en aanhoudende vrae) uitgevoer – toneel, opera en ook ballet het alles binne my belangstellingsveld geval.

Ons twee het baie gou dikwels saam na opvoerings en rolprente gaan kyk en my kennis is merkwaardig uitgebrei op vlakke wat my nie beskore sou wees as ek direk ná universiteit verhoog toe sou gaan nie.

Phillippa se kennis van haar vak het my deurlopend beïndruk.

Phillippa, ek is bly ek kon jou "toevallig" 'n paar maande gelede raakloop in die nuwe hospitaal in Northcliff, Johannesburg. Ons het gesels soos destyds.

Jy is nog steeds die reguit maar terselfdertyd tegemoetkomende mens wat ek in Die Transvaler in Johannesburg se kantore die voorreg gehad het om te leer ken en waardeer. 

Dankie Phillippa vir jou kennis en insig wat jy so mildelik gedeel het met 'n groentjie-verslaggewer en latere toneelspeler.

Ek sal jou altyd hoog ag.

JAKKIE GROENEWALD, akteur, talentslyper en taalversorger, skryf: Toe Phillippa kunsredakteur van Die Transvaler was en ek kunsredakteur van Die Vaderland, het ons soms meningsvers kille gehad in ons sienings/interpretasies van sommige toneelstukke/rolprente, maar sy was bekend vir haar hardekwasheid en sonder om rusie te maak, het ons ons verskille oor verskeie glasies wyn gemoedelik uitgesorteer.

Ná die samesmelting van die twee koerante was sy die TV-redaktrise en ek die kunsredakteur, so derhalwe het ons “onderonsies” tot ‘n einde gekom.

In daardie stadium het ek heelwat oorklanking vir die SAUK gedoen en in die SAUK-wandelgange het ek gereeld gehoor hoe van die SAUK-werknemers en TV-akteurs hul heilige vrees uigespreek het as hulle met haar ʼn onderhoud moes voer. Tog het  hulle groot resepek vir haar gehad, al het sy hulle soms aan die kort haartjies beetgekry.

PIET EBERSÖHN skryf: OP die oog af kon ʼn mens jou kwalik twee meer uiteenlopende persoonlikhede indink: Phillippa vurig, soms selfs moeilik; David bedaard, een van die min ware here wat ek in die joernalistiek raakgeloop het.

Daar was egter ook sterk ooreenkomste tussen die twee: elkeen ʼn meester van sy vak, hul kennis daarvan grondig; albei met ʼn toewyding en werkvermoë wat ʼn mens selde sien.  

As die mees junior sub om die tafel moes ek aanvanklik die oggendskof onder Vernon Marais se wakende oog aandurf – en hy kon nie wag om Phillipa se kuns- en vermaakbladsy aan my oor te dra nie. Die hoofartikelbladsy en die naas-HAB het mos darem voorkeur op sy ervare hand gehad.

Ek was net lank genoeg by Die Transvaler om goed lugtig vir Phillippa te wees, maar genadig het ons heel goed klaargekom en is ek slegs een keer deeglik geskrobbeer – die dag toe ek en Wouter de Wet ʼn kunstige gesigfoto oor drie kolomme gebruik het en dusdoende “kosbare plek op die bladsy vermors het”.

Kort voor lank het ek selfs die “byvoordeel” geniet om kabaretresensies vir Phillippa te doen wat selfs my musieksmaak help verbreed het, met dié dat ek via ʼn tannie Taubie Kuschlik-produksie met Jacques Brel se musiek kennis gemaak het en dit sedertdien steeds waardeer.

David, op sy beurt, het my die eerste geleentheid gebied om vir ʼn dagblad oor ʼn provinsiale rugbywedstryd te berig. Hy het nie genoeg mense gehad om ʼn wedstryd te dek nie en my gevra om te help. As vurige Griekwa-ondersteuner, gebore en getoë, kon ek nie die geleentheid versmaai om ʼn wedstryd tussen “my” span en Suidoos-Transvaal op Kimberley by te woon nie.

Ek en Christo Lemmer, vir Die Transvaler, pak toe die pad na die De Beers-stadion per trein aan. Perskor het ons elkeen van ʼn retoerkaartjie vir die rit voorsien. Saterdagaand stel ons vas dat die eersvolgende trein van Kimberley af Johannesburg eers Sondagaand loop – en ons moet albei al die middag by ons onderskeie subtafels inval.

Gelukkig was daar destyds nog goeie Samaritane. Griekwas se spandokter, dr Clyde Keevey, het my en Christo lughawe toe gevat, die kaartjies betaal en ʼn tjek van my vir die bedrag aanvaar en ek en Christo was Sondag op ons pos. 

Wil jy glo dat ʼn joernalis destyds nog sommer so ʼn tjek vir twee vliegkaartjies kon uitskryf. R30 draai in my kop rond, maar ek kan nie onthou of dit vir een of albei was nie.

Ek het ook ná my koerantloopbaan met David te doene gekry. As skakelman, met hom as redakteur, het hy altyd ʼn gewillige oor vir my stories gehad en as kunstenaarsagent was sy diens uiters bekwaam.

Maar David het ook vir een van my min “hoogtepunte” op die krieketveld gesorg. Die Transvaler het op John Orr se veld teen Die Vaderland gespeel. DT het ʼn knap span gehad en daar was nooit plek vir my nie. Ek is darem toegelaat om die telling te hou.

Dié dag was daar genoeg van die DT-spanlede onbeskikbaar sodat ek wel plek gekry het, sonder enige getuienis van talent vir enige ander aspek van die spel. David en sy makkers, maar veral David, boul DT aan flarde, nie een van ons haal dubbelsyfers nie.

Dalk het David-hulle moeg begin raak, maar die laaste twee DT-kolwers vaar die beste met nege lopies elk; ek en Jakkie Groenewald (hy, nie uit nie).

En DT kies my wragtie nooit weer nie ...

1.9.25

Martin Williams van The Citizen oorlede

SIPKE DE VRIES het laat weet dat Martin Williams gister oorlede is. Hy was 73 jaar.

Martin was tot sy aftrede redakteur van The Citizen nadat hy van Johnny Johnson oorgeneem het. 

Hy was ook jare lank voorsitter van die Johannesburgse persklub waar ek en hy baie vreugde beleef het.  

Hy het later die DA se raadslid vir Sandton geword.


14.5.25

REÜNIE 2025: GEBORG DEUR DAGBREEKTRUST


Dis weer tyd vir lekker kuier by ons volgende reünie van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers (dis nou APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens). Die reëlingskomitee, onder leiding van voorsitter Harald Pakendorf en bygestaan deur sy gade Aletta, Louise Blake en Madelaine Page, het besluit om vanjaar weer ‘n funksie by dieselfde restourant as tevore – die Irish Rock - te hou. 

Die saamtrek vind op Sondag, 25 Mei 2025, plaas. Die ete begin stiptelik om 12:30. Kom van 11:30 af en kuier eers lekker saam. Daar is ‘n kontantkroeg. Die Irish Rock se buffet bied bief bourguinon, oondgebraaide hoender, rys, patats, roomspinasie, geelwortels en Griekse slaai. Vir nagereg, sjokolade bruintjie en roomys, of malvapoeding en vla.

12.5.25

Op soek na Hermie Hendriks se dogter, Hermien, i.v.m. boeke

Hermie Hendriks
PIETER HAASBROEK skryf: My voltydse werk is om ou storieboeke van FA Venter, Gerrie Radlof, Braam le Roux en vele ander weer die lig te laat sien, deur die boeke as e-boeke uit te gee op Amazon, Google en ander platforms, in Afrikaans en Engels.

Ek het reeds meer as 230 boeke van bv. Die Sahara Avontuur reeks, Swart Luiperd Reeks, Oloff die Seerower reeks en andere uitgegee.

Ek weet dat Hermie Hendriks op 25 Junie 2020 oorlede is en sal baie graag met sy dogter wil kontak maak oor haar pa se Diamantveld Avontuur reeks van 12 boeke wat hy geskryf het.

Ek sal dit dus hoog op prys stel indien julle my Hermien se e-pos en/of foonnommer kan gee om haar te kontak.

My eie webwerf waar ek die eboek reekse verkoop is https://panther-ebooks.com 
en op Amazon sal die e-boeke wat ek uitgegee het, opgespoor kan word deur bv. my naam "Pieter Haasbroek" in amazon.com in te tik.

Laat weet my asseblief of julle my dalk kan help.Ek sal dit hoog op prys stel.

Groete uit die Strand in die Weskaap.

19.12.24

Zoom-skakel vir Willem Allen se diens

GLAZELLE POHL skryf: Hier is die Zoom-besonderhede vir 19 Desember 2024 om 10:30.
Meeting id 5399657696
Passcode 1234 

Of as jy ʼn Zoom app en login het, kan jy dié een gebruik: 

https://us06web.zoom.us/j/5399657696?pwd=ZUVSVjVVZ3dFc2Y1
NnVLTXNaNVhWZz09&omn=73754508894

14.12.24

Willem Allen oorlede

WILLEM ALLEN se dogter Glazelle Pohl laat weet dat hy vanoggend (13 Desember 2025) op 86 oorlede is ná ‘n stryd teen kanker. Hy was die afgelope drie maande ernstig siek en het veral die laaste maand vinnig agteruit gegaan.

Hy is op 13 April 1938 gebore.

Willem laat sy vrou Gladys en ʼn hele groot familie agter: sy dogters, Rosa van Eck, Wilma Schutte, Glazelle Pohl en Rene du Toit; skoonseuns Jannie van Eck, Ignatius Pohl en Thomas Rensleigh; sewe kleinkinders en ses agterkleinkinders.

3.12.24

Koerante waai soms die vergetelheid in

PEET VAN STADEN skryf:  Shoe Lane was wel die straatadres, maar dit is of was g’n laan nie, allermins ‘n straat. Dit was eintlik maar die ingang na ‘n kantoorgebou ‘n paar meter se stap van Fleet Street af.  Die gebou se naam was die International Press Centre, en daar beleef ek op ‘n somerse Saterdagnag iets wat ek jare later besef het simbolies is van die hoogtepunt van koerante, veral Sondagkoerante.

Ná my laat werkery in Rapport se kantoor in die perssentrum het ek regs gedraai in Fleet in die rigting van Trafalgarplein. Hy was, kleurryke verlede en al, self nie veel van ‘n straat nie. Maar die name teen die geboue aan weerskant het hom die trefkrag van ‘n emosionele bakoond gegee: The Times, News of the World, The Daily Telegraph, Daily Mail.

26.11.24

Die Transvaler se fotograwe was ysters

KOBUS BOTMA stuur ʼn knipsel uit Die Transvaler van 14 Maart 1978. Dit lui: 

DIE TRANSVALER se fotograwe het nie minder as drie van die pryse in die jaarlikse wedstryd vir die beste persfoto’s verower nie.

In die wedstryd vir verlede jaar het Pierre Oosthuysen, hooffotograaf van Die Transvaler, die prys vir die beste sportfoto van 1977 verower. Hy ontvang daarvoor ʼn kontantprys van R200.

Die tweede prys in die afdeling vir nuusfoto’s is ook deur ʼn Transvaler-fotograaf, Jack Fenix, ingepalm. Mack van der Walt, ook van Die Transvaler, het die vierde prys in dié afdeling verower.

14.11.24

Willem het ʼn lang pad met diep spore by Perskor gestap

WILLEM ALLEN skryf: K'rant het gevra dat ek my tyd by Perskor moet beskryf. Hier is ʼn kort weergawe van hoe dinge verloop het.

Ek begin op 6 Februarie1957 by TW Hayne en Gibson, Dagbreekpers as betaalmeester.

Tussen 1966 en 1976 was ek vervoerbestuurder. In daardie tyd kry ek ook addisionele verantwoordelikheid om toesig te hou oor Plaas Marius met die vang van wild, soos impala, wildebeeste, kameelperde, renosters en swartwitpense uit Suidwes-Afrika en om hulle te vervoer na Plaas Marius in Louis Trichardt-distrik.

24.10.24

Binnepret terwyl Jan koets vir die Coetzees

PIET EBERSÖHN skryf: EK wil allermins beweer dat Jan van Vuuren die feite oor sy potjie met die Coetzees verdraai, maar verbeel my tog dat die storie effens anders verloop het.

Dalk is daar iemand wat die een of ander se weergawe kan bevestig of dalk ʼn derde een het om weer te gee.

Soos ek dit onthou, was Jan iewers op ʼn storie uit of nie aan diens nie toe die Coetzees by die kantoor in Doornfontein opgedaag het.

14.10.24

Kuier in boekwinkel red Jan van slae

JAN VAN VUUREN skryf: DIE koop van sportboeke was – en is – nog altyd een van die groot passies in my lewe. So te so dat my kleindogter nou die dag vir my sê "maar oupa het ʼn biblioteek se sportboeke".

Dit laat my terugdink aan ʼn dag in September 1977 toe ek die passie van my onverwags moes toepas.

Ek was aan die werk in die sportkantoor. Rustig en sonder probleme. Die krieketseisoen was om die draai en daarmee saam "scoops"en goeie krieket.

10.10.24

Wat is die storie agter dié foto?

KOBUS BOTMA skryf: EK was ʼn fotograaf by Die Transvaler in die jare '76 tot '78, in die ou Perskorgebou in Doornfontein. Iewers in '78 het ek oorgeskuif na The Citizen, tot einde '79.

By Die Transvaler het ek saam met ouens soos Wessel Oosthuizen, Pierre Oosthuizen, Nick van der Linde, Jack Fenix, Johan van Zyl, Glen Lamprecht en Mack van der Walt gewerk. Al was van die ouens òf Transvaler- òf Vaderland-fotograwe, het ons dieselfde donkerkamers gedeel, en baie saam gewerk.

Ek hoop julle kan my help met ʼn foto hieronder wat deur Jack Fenix van Die Vaderland geneem was, in '76 of '77. 

25.9.24

My dwaling met Wonder Woman

PIETER ROOTMAN skryf: IN die bietjie meer as twee jaar wat ek by die middagkoerant, Hoofstad, gewerk het, het dit letterlik krioel van die skrywers daar. En nie sommerso skrywers nie. Bekroonde skrywers en liedjieskrywers wie se name voortleef in die volksmond. PG du Plessis is redakteur. Adriaan (Attie) Snyman werk deeltyds as taal- en bladversorger (sub) van die sportblad, Koos du Plessis werk vir ʼn wyle as taal-en bladversorger van die nuusblaaie en Jeanne Goosen is die baas van die vroueblad.

19.9.24

Met ʼn pak Vaderlande op my rug – 47 jaar gelede

HEINRICH SCHULZE skryf: BELOFTES maak skuld. Karin Pretorius het my reeds knap ná die Covid-19-pandemie aangepor/aangespreek om iets oor my dae as “Perskorwerknemer” vir K’rant te skryf.

Vandag poog ek om my skuld te vereffen.

Ek was in 1977 ʼn Perskorwerknemer. Alhoewel nie een van julle my geken het nie, het ek julle en die Perskorkoerante goed geken.

14.9.24

Oudredakteur van Tempo oorlede

JOE VAN BUUREN skryf: ALWYN STRYDOM, destyds lid van Die Transvaler se redaksie, is Woensdag 11 September, op Willowmore in die Oos-Kaap dood. Hy was 72.

Wyn sal veral onthou word vir sy gemoedelikheid en voorliefde vir ʼn lekker partytjie, waar hy en André Pienaar, ook reeds saliger, hulle kollegas met hul uitbundige ghitaarspel vermaak het.

9.9.24

Die Transvaler gedigitaliseer

11 November 1974
Is jy ‘n voormalige verslaggewer van Die Transvaler wat al gewens het jy kan weer jou berigte van destyds lees. Dis nou moontlik.

Klik op https://gpa.eastview.com/dtsa/. Sleutel jou naam of enige ander woord tussen aanhalingstekens in en siedaar, daar’s almal.

Op hierdie webwerf is al Die Transvalers van 1938 tot 1987 volledig gedigitaliseer.  Volgens die webwerf is daar altesame 14 988 eksemplare van die koerant, bestaande uit 310 135 bladsye.

As voorbeeld kan genoem word dat 477 berigte onder die naam Gerhard Burger gevind is.

13.8.24

Essie: "Daar was nooit nukke of buie of ego nie"

PEET VAN STADEN skryf: LAG was maklik … of Essie Esterhuizen in die kantoor, die persbank of op die hoë stoeltjie langsaan in Vegkop was.

Maar dis nou moeilik om oor hom skryf, want Essie was ʼn merkwaardige mens, ingewikkeld in sy oënskynlike eenvoud. Daar was nooit nukke of buie of ego nie. As sportskrywer was hy geen grap nie. Hy was in werklikheid een van die spesiale sportskrywers – en ménse onder hulle – in wat toenemend lyk na die laaste betekenisvolle halfeeu van Afrikaanse sportskrywers.

 Johan Esterhuizen is Dinsdag, 6 Augustus op Ballito dood ná ‘n kort siekbed, soos syverwant Emile Smith in K’rant geskryf het. Hy het die vorige dag 76 geword. Eers washy tennisskrywer by Hoofstad en Die Transvaler, en het daarna veral as krieketskrywer by The Citizen en Rapport naam gemaak. Hy was sportredakteur van The Citizen, en het ook uitvoerig oor boks en rugby geskryf.

7.8.24

Vermaarde krieketskrywer oorlede

PHILIP DEETLEFS laat weet dat Johan (Essie) Esterhuizen, vermaarde krieketskrywer van Hoofstad, Die Transvaler, The Citizen en Rapport, vanoggend oorlede is.

Essie
Hy was eweneens ʼn gerekende rugby- en boksskrywer.

EMILE SMITH EN FAMILIE skryf: Oom Johan (Essie) is Sondag, 28 Julie 2024, in Netcare Balitto opgeneem met ʼn bloeiende maagseer wat gebars het. Hy is daarna vir ʼn noodoperasie teater toe gevat. Hulle het toe hulle skoonmaak bevestig dat hy maagkanker het. Hy is uit die teater na die waakeenheid oorgeplaas, waar hy op ʼn ventilator was. Oom Johan het gister, Sondag 5 Augustus, verjaar en is dus die volgende dag op 76 oorlede. Sy organe het baie swaar getrek en sy hart het vanoggend gaan staan. 

Sy suster Joey se dogter Rika en háár dogter was by hom en hy was nie alleen nie. Die res van die familie moes terugkeer Vrystaat toe omdat hulle Maandag weer moes werk. 

  • Emile is ʼn kleinseun van Rika. -- Red.

2.8.24

GPS kelder langpad-sending

KARIN PRETORIUS skryf: DIS nou ‘n verrassing om te hoor dat my bywoning uit die Kaap van die Perskor-reünie op 19 Mei 2024 in Johannesburg die verste is wat nog vir die byeenkoms gereis is, behalwe vir Joe Venter van Bloemfontein af.

Met my vlug na Johannesburg was ek op ‘n ernstige sending, want daar was twee dinge wat ek graag aan redakteur Harald Pakendorf wou sê: ons het mekaar in 1981 – 43 jaar gelede – laas gesien en dit was met die ‘wêreldscoop’wat ek aan Die Vaderland besorg het met ‘n groot storie uit die Rhodesiese bosoorlog van daardie jare.

12.7.24

Uitweg uit Unisa-doodloopstraat

KARIN PRETORIUS skryf: EK skryf met betrekking tot Andries Burger se navraag op K’rant en die redakteur se opmerking.

Ek het die voorreg gehad om As Burger in 1972 te ontmoet toe hy by ons op die plaas naby Swartruggens kom kuier het. Dit was tydens die Vonsteen-verhoor en my man, Kas van den Bergh, was besig om ʼn boek daaroor te skryf. Hy het adv. Burger oorgenooi om gedagtes met hom oor die verhoor te wissel. 

3.7.24

Hulp met berigte oor adv. As Burger gevra

ANDRIES BURGER, seun van advokaat As Burger skryf: my pa is dié week oorlede.  Hy sou volgende maand 85 gewees het. Ek probeer ou koerantberigte oor hom kry en vra hulp.

Ek weet daar was destyds berigte oor van die hofsake waarin hy opgetree het, soos die Frans Vonsteen-verhoor in 1972.  Daar was ook berigte/artikels oor die moderne vyfkamp waarin hy 'n Springbok was.  

Ek sukkel om iets te vind, veral omdat ek in Melbourne, Australia woon. Het u dalk toegang tot argiewe of hulp hiermee? Hierby is 'n skets van Len Lindeque wat na an my pa se hart was.  Dit het op 16 Maart 1969 in Dagbreek verskyn.

27.6.24

Rapport maak wéér (vir oulaas) opslae

‘n Aankondiging is vroeër vandeesmaand met groot verbasing bekend gemaak dat onder meer Rapport gaan sluit.  Net so was dit  in 1970  ‘n groot verrassing toe aankondig is  dat die destydse Dagbreek en Die Beeld  (nie Beeld nie) gaan amalgameer om Rapport te word.

JOHAN VOSLOO, tóé nog sportverslaggewer by Dagbreek het in Hanekraai, personeelblad van die Afrikaanse Pers Beperk (APB), vertel van sy ervarings toe hy en sy kollegas op 29 Oktober 1970 gehoor het van dié samesmelting.  Dit is later in K’rant opgeneem.  Klik HIER om sy storie te lees.

7.5.24

Leefbaarder wêreld: net met ʼn glimlag, Pappie!

PEET VAN STADEN skryf: Vir my was hy die een wat altyd geglimlag het. Nooit nukkerig nie, nooit dikmond nie. Gegewe my herinneringe aan die klimaat in Perskor se koerantkantore diep in die jare sewentig was Dirk Benadé se temperament merkwaardig, eintlik uniek. 

Perdewedrenskrywers, soos rugbyskrywers, was altyd maar ʼn eie klomp. Hulle was deel van sportredaksies, selfs oudsportredakteurs soos Wolfie Wolfaardt en Roelf Theunissen. Ons ander het dikwels bespiegel oor hoeveel van die sport daar sou oorbly as weddenskappe by perdebyeenkomste weggevat word. Maar soos met verdedigingsobligasies destyds het fiskale oorwegings die moreles getroef. 

Die renskrywers self het oor die debat getree. By die jaarvergadering van die Randse Sportskrywersvereniging het een van hulle kort-kort ʼn perd as een van die Sportsterre van die Jaar benoem. Francois Wolfaardt het selfs een keer sy voorstel – dalk nog vir Principal Boy – met ʼn troefkaart afgesluit: “Boonop, Meneer die Voorsitter, is hierdie perd ʼn dêm goeie Nasionalis!” 

6.5.24

Groot Dirk was enig in sy soort

JAN VAN VUUREN skryf: Dirk Benadé, perderedakteur van Die Transvaler in die 1970's en 1980's, is Vrydagaand, 3 Mei 2024, oorlede. Hy was 77 jaar oud. Dirk was in die Garden City-kliniek, Johannesburg om vergroeisels te laat verwyder. Komplikasies het ingetree en het tot sy dood gelei.

Dirk was 'n uiters begaafde sportman wat van jongs af groot potensiaal in rugby en atletiek getoon het. Hy was in standerd 9 toe hy in 1964 vir Die Fakkel Hoërskool, Johannesburg in die Administrateursbeker-eindstryd op Potchefstroom teen Lichtenburg gespeel het. Ongelukkig vir hom, het Die Fakkel met 11-16 verloor.

22.4.24

REÜNIE, 2024: GEBORG DEUR DAGBREEKTRUST

Dis weer tyd vir lekker kuier by ons volgende reünie van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers  (dis nou APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens). Die reëlingskomitee, onder leiding van voorsitter Harald Pakendorf en bygestaan deur sy gade Aletta, Louise Blake en Madelaine Page, het besluit om vanjaar weer ‘n funksie by dieselfde restourant – die Irish Rock -  te hou. 

Die saamtrek vind op Sondag 19 Mei 2024 plaas. Die ete begin stiptelik om 12:30. Kom van 11:30 af en kuier eers lekker saam. Daar is ‘n kontantkroeg.

21.4.24

Koerantman Frikke leer TV ‘n ding of twee

PEET VAN STADEN skryf: FRIKKIE VAN DER WALT, eens onder meer nagredakteur van Die Transvaler, is Maandag, 8 April ná ʼn tweede ernstige siekbed op 80 oorlede. Hy het sy lang en kleurryke loopbaan by Perskor opgevolg met ʼn nog langer en ewe merkwaardige skof by die TV-nuusredaksie van die SAUK.  Hy laat sy vrou, Susan, en twee kinders agter.

Hy het laat in die jare 1960 by Die Vaderland begin waar hy hom as misdaadverslaggewer onderskei het en lewenslank geesdriftig vertel het van die karakters en ervarings wat hy in daardie wêreld beleef het.  Daarna het hy na Die Transvaler se redaksie verskuif waar hy later nagredakteur was tydens die groot tweestryd met Beeld.

18.4.24

Elise herstel na ernstige terugslag

PEET VAN STADEN skryf: ELISE VAN STADEN herstel tuis in Randburg ná ‘n ernstige terugslag. Die voormalige vroueredaktrise van Die Vaderland en later akademikus het in Desember uit die bloute ernstige longontsteking gekry waarna sy drie weke in ʼn koma en altesaam vyf weke in die waakeenheid was. 

Dr Elise van Staden

Sy was teen die derde week van Januarie 2024 terug by die huis. Al was sy baie verswak, het sy geen blywende skade opgedoen nie. Haar herstel vorder so goed dat sy sonder hulp stap en baie van haar vorige pligte uitvoer. 

Elise het in Desember 1969 by die vroueredaksie van Die Vaderland begin, gesub en algemene verslaggewing gedoen. Sy het ook by Hoofstad gewerk en vroueredaktrise by Die Vaderland geword voordat sy Sarie toe is. Sy het tussenin kinders grootgemaak, skoolgehou en uiteindelik by die Randse Afrikaanse Universiteit gedoseer.

11.4.24

Koos Doep se kronkelpad* koerante toe

PEET VAN STADEN SKRYF:  DIE joernalistiek skep maar met ’n growwe sif uit die ervarings wat hy aanbied: altyd laat hy gedenkwaardige geleenthede deur weens werk, oordeel, selfs luiheid. By my hope kostelikes is ek armer omdat ek nooit in die Concorde gevlieg of Frank Sinatra by Sun City gesien of die toetsuur beleef het met Graeme Pollock en Barry Richards se vennootskap teen Australië nie.

Of een van Koos du Plessis se sangaande nie. Die ergste is ek het nooit rerig daarvan geweet nie totdat Leendert Pieterse jare later vertel en ek nou die dag terloops toe ek Wim van der Berg se K’rantvertelling daaroor raakgelees het.

En tog ken ons mekaar -- meer bepaald ken ek hóm -- lank voordat enige van ons twee joernaliste geword het. Wat my laat dink dat ek miskien my bietjie moet vertel van hoe hy in die koerantwese beland het.

22.2.24

Waar is Tom se rubriek?

Tom Buys
Arica van der Westhuizen skryf: Ek is besig met navorsing oor my oorlede pa, Tom Buys.

Hy en Len Lindeque het destyds ‘n "rubriek" saam hanteer, genaamd “Só is Hulle".  Ek is nie seker of dit in Die Vaderland of Perskorhaan gepubliseer was nie.  Ek is opsoek na daardie material --  my pa se artikels en Len se sketse.

 Weet iemand dalk waar ek dit kan kry, veral die artikels wat my pa geskryf het.

(Tom was hoofsub en nuusredakteur van Die Vaderland in die vroeë  sewentigs. Is daar iemand wat weet of daar 'n argief is waar ou eksemplare van Die Vaderland, Die Transvaler en ander Perskorpublikasies geberg word?  K'rant het al heelwat navrae hieroor gehad.--Red.)

10.2.24

Lucia (Van den Bergh) Prinsloo oorlede

LUCIA (VAN DEN BERGH) PRINSLOO, voormalige verslaggewer by Hoofstad is Dinsdag, 6 Februarie 2024,  in die St George's-hospitaal, Port Elizabeth oorlede.

Sy was 67. Sy ek haar tandartsman, Dappie, het in Jeffreysbaai gewoon.

Lucia het meer as jaar terug 'n nieroorplanting gehad.  Haar broer, Van Rooy van den Bergh, was die skenker. 

'n Vorige berig oor Lucia is HIER