Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.9.20

'n Droom aan skerwe

MAUREEN SWART skryf: Selfs nou nog, maande ná die nuus dat Rooi Rose se deure gesluit het, is ek steeds verslae. 

Hene, vandat ek kan onthou, was Rooi Rose deel van my lewe. Nou het Covid-19 meegebring dat hierdie ikoniese tydskrif, saam met 'n hele rits Suid-Afrikaanse tydskrifte, moes toemaak.

Aangesien Rooi Rose grotendeels by Afrikaanse Pers Beperk (later Perskor) begin wortel skiet het, het ek so 'n bietjie in Rooi-Rose se (verre) verlede gaan snuffel.

Rooi Rose is deur 'n man begin -- deur die baie bekende skrywer, Mark Preston. Dit was nie sy regte naam nie, maar die skuilnaam van Hendrikus Potgieter. Sy droom was om 'n vrouetydskrif te publiseer. 

Hendrikus Potgieter
Hendrikus Potgieter

Kort ná sy 21ste verjaardag het 'n motor op hom omgeval en hom so ernstig beseer dat hy drie jaar lank in die hospitaal was. 

Oor 'n tydperk van 31 jaar het hy 32 operasies ondergaan, maar sou steeds pyn hê en nooit weer normaal kon loop nie.

Sy skuilnaam is uit "Mark pressed on" saamgestel, 'n verwysing na sy deursettingsvermoë en verbete stryd om liggaamlik te herstel. 

In sy boek, "My God en ek," vertel hy van sy langsame herstel ná die ongeluk en sy droom om 'n vrouetydskrif te begin. Teen die tyd dat dié boek se eerste uitgawe in 1949 gepubliseer is, was sy droom reeds bewaarheid. Want in April 1942 het Rooi Rose die eerste keer die lig gesien.*1) 

Eerste uitgawe
Eerste uitgawe
Om alles te kroon, het die voorbladfoto van Rooi Rose se eerste uitgawe -- 'n spieëlbeeld van 'n meisie omring deur rose -- daardie jaar in sewe lande die eerste prys in foto-tentoonstellings losgeslaan! 

Die kleure van die voorblad was rooi, groen en wit. Die tydskrif het nege pennies gekos en die ligrooi mashoof was in romantiese sierskrif. Die slagspreuk het gelui: "Die drama van die lewe in sy naakte waarheid". 

In 1942 was die Tweede Wêreldoorlog in volle gang en deur verhale van liefde en romanse wou Potgieter vroue uit hul oorlogsvoosheid en brandarmoede van daardie tyd laat ontvlug. 

Oor die eerste uitgawe skryf Martie Pansegrouw, redakteur van Rooi Rose, in die April 2012-uitgawe die volgende: "Sy's maar doodgewoon en sonder aanstellerigheid, want sy praat die taal van die Afrikaanse vrou van die platteland wat in die stad moet oorleef." 

Aanvanklik was Rooi Rose 'n maandelikse tydskrif en die eerste uitgawe het uit 4 000 eksemplare bestaan, wat soos soetkoek verkoop het. 

Weens die papiertekort tydens die oorlog was daaropvolgende eksemplare egter na 2 000 verminder. Dit het Potgieter glad nie geval nie. Dus moes die tweede publikasie voorlopig maar tot Augustus 1944 weggebêre bly totdat daar meer papier beskikbaar was en hy toestemming vir 'n groter oplaag by die Papierkontroleur*2) gekry het, op grond daarvan dat Rooi Rose 'n bestaande tydskrif was. (Die papierskaarste was nog tot in die vroeg-vyftigs 'n netelige kwessie.)

Die Augustus 1944-publikasie het ses pennies gekos (minder as die eerste uitgawe) en op die voorblad was 'n wit-en-swart foto van 'n swaan op 'n meer. Dié keer 'n donkerrooi mashoof en die slagspreuk het gelui: "Moderne Maandblad Vir Suid-Afrika." 

Die redaksie het lesers genooi om bydraes te stuur, veral ware lewensverhale, moontlik iets uit hul liefdeslewens.

Marius Jooste

Teen dié tyd het Rooi Rose egter nie meer slegs net aan Potgieter
behoort nie. Hy het aandeelhouers nodig gehad om die onkoste te help dra en het in 1944 vir Marius Jooste en AM van Schoor,
destydse werknemers van Afrikaanse Pers Beperk, gevra om in Rooi Rose in te koop. 

Die here Jooste en Van Schoor het geld by 'n bank geleen en toestemming van APB gekry om die tydskrif te bestuur terwyl hulle werknemers was, met dien verstande dat die tydskrif by die APB-drukkery op Kroonstad gedruk word.

Van Schoor het een keer 'n maand Kroonstad toe gery.

AM van Schoor

Teen 1946 het Rooi Rose so goed gevaar dat APB hul toegewing aan Jooste en Van Schoor teruggetrek het en die blad by Potgieter gekoop het. 

Maak geen fout nie. Rooi Rose het nie by romantiese stories vasgesteek nie. Allermins! 

Met dié dat die papiertekort stadigaan iets van die verlede geword het, het Rooi Rose ook brei- of hekelpatrone, resepte, 'n redaksionele rubriek ("Van rose en roosdorings"), resensies oor toneelstukke en iets oor die huis en tuin by die liefdesvehale gevoeg. 

Diereriem-gelowiges kon lees wat hul sterre voorspel en artikels oor die glansryke lewens van Hollywood-sterre het ook groot byval gevind -- alles in die ietwat hoogdrawende en formele skryfstyl van daardie tyd. 

Adverteerders het nie op hulle laat wag nie en heel gou het elke uitgawe van advertensies gewemel. 

Ná die oorlog het Rooi Rose ook oor aktuele onderwerpe berig, soos die ontstaan van die Verenigde Nasies, die besoek van Koning George VI en sy gesin in 1947 en deurbrake op mediese gebied. 

Baie jare later het Toek Blignault, destydse adjunk-redakteur van Rooi Rose, 'n onderhoud met die hartsjirurg, dr Chris Barnard, gevoer. 

Toek Blignault was eers 'n troostante by Rooi Rose voordat sy die adjunkredakteur-skoene aangetrek het. Uit haar pen het vele ontspanningsverhale gevloei wat in Rooi Rose gepubliseer is. 

Kas van den Bergh

Bennie Fritz

Ander bekende fiksieskrywers met wie se name Rooi Rose-lesers goed vertroud geraak het, is Kas van den Bergh, Vincent van der Westhuizen, Bennie Fritz, Ena Murray en Wille Martin. (Laasgenoemde het sulke lekker Ou-Kaapse stories geskryf, wat as vervolgverhale in Rooi Rose verskyn het.) 

Vir baie jare het Rooi Rose ook tydens Paas- en Kersfees spesiale verhale-bylaes gepubliseer. 

In die beginjare was Rooi Rose se voorblad in wit en swart teen 'n agtergrond van rooi rose met 'n rooi mashoof; vir opkikkering en om aandag te trek op die winkelrakke. 

Die voorbladfoto's was dié van beeldskones, filmsterre van die tyd: Elizabeth Taylor, Ingrid Bergman, Ava Gardner. 

Vanaf 1950 was die Kersuitgawes se voorblaaie egter in volkleur, byvoorbeeld dié van Desember 1950 en '51 - bosse rose in pienk, geel, rooi. Te pragtig. 

Van die middel-vyftigs af was alle Rooi Rose-buiteblaaie in kleur. Daar was tot 'n doring onder die rose op een van die voorblaaie: 'n nog-skaars-droog-agter-die-ore-Pat Boone. Einste hy van "Love Letters In The Sand"-faam op die voorblad van die Julie-1958-uitgawe, in die dae van die "jukebox" en goue treffers. 

In Mei 1960 word Rooi Rose 'n tweeweeklikse blad; teen dié tyd reeds 'n lywige tydskrif van ver oor 'n honderd bladsye; toe al so diep in ons land se kultuur, Afrikaanse huishoudings en die wel en wee van die Afrikaanse vrou ingewortel dat nie eens 'n graafmasjien dit sou uitkry nie. 

In 1961 word Susan de Winter Rooi Rose se eerste vroulike redakteur. Sy is egter ná 'n kort dienstyd oorlede.

Martie Snyman

Daarna neem die legendariese Martie Snyman die redakteursleisels oor. Onder die skuilnaam, Anna Malan, het sy die gereelde rubriek, "Vra maar, Anna Malan sal help", geskryf.

In 1970 word die tydskrif volkleur. (Sien ook Gerhard Burger se storie oor toeka se Rooi Rose, K'rant 23-10-14.

Vir menige aspirant-modelle het Rooi Rose se bekende en gewilde Model Van Die Jaar-kompetisie deure oopgemaak: Dit was juis aan een van hierdie kompetisies (mededinging was straf) te danke dat Charlize Theron -- nog maar vyftien jaar oud, het sy in 1991 die Model Van Die Jaar geword. 

Die kompetisie het op 2 Augustus daardie jaar plaasgevind en sy het eers op 7 Augustus sestien geword. Kort daarna het die piepjong Charlize -- nog met ronde tienerwangetjies -- die voorblad van Rooi Rose, 25 September 1991, versier.


In Julie 1998 smelt die drukbelange van CTP Caxton en Perskor saam en sedertdien word Rooi Rose deur Caxton gepubliseer. 

In groot geheimhouding word daar in 2000 allerhande planne beraam en in November daardie jaar ontpop Rooi Rose as 'n maandelikse glans-Rooi Rose.

Ander tydskrifte het Rooi Rose gena-aap en kort voor lank was al wat winkelrak was, toegepak van glans-maandblaaie. (Dit was nie die eerste keer dat 'n metamorfose Rooi Rose getref het nie -- sien Hanlie Vornberg se storie in K'rant 27.10.14). 


Tydens 'n lang lewensreis het Rooi Rose nie net met die leesgiere en -geite van elke tydperk tred gehou nie, maar het ook van 'n as-ek-eendag-groot-is-tydskriffie tot 'n topgehalte "I-have-arrived!"-glansblad gegroei ... propvol blokkiesraaisels, resepte, grimeerwenke, kortverhale, rubrieke, dékorwenke, modenuus, boekenuus, briewe van lesers, advertensies en artikels oor enige onderwerp onder die son -- medies, sielkundig, motornuus, geldsake, profielartikels en nog baie meer. 

Nou lê 'n droom, wat 78 jaar gelede bewaarheid is, aan skerwe; asook die drome van almal wat hierdeur geraak word. Want vroeg in Mei 2020 het Caxton-uitgewers hul hele tydskrif-afdeling gesluit. 

Die Junie 2020-uitgawe sou Rooi Rose se laaste een wees. In 'n brief van die redaksie op Rooi Rose se webwerf, word egter genoem dat die Rooi Rose-span reeds die Julie-uitgawe begin saamstel het voor hulle die skoknuus gekry het. (Die Caxton-groep sê dat die swak ekonomie die afgelope jare 'n afname in advertensies en in die sirkulasie van die tydskrifte veroorsaak het. Die inperking was die laaste strooi.) 

Sedertdien het aanbiedinge om die Rooi Rose-titel oor te koop, begin instroom. So, wie weet, dalk gaan Rooi Rose onder 'n splinternuwe dak herleef! *1) 

Rooi Rose was nie die eerste Afrikaanse vrouetydskrif nie -- "Die Boerevrou" (deur Mabel Malherbe gestig) was die baanbreker en het vanaf Maart 1919 tot Desember 1931 bestaan. *2) 

Teen die einde van 1940 was die papiertekort so erg dat 'n Papierkontroleur aangestel is -- kolonel J J Kruger, bygestaan deur die Nasionale Persunie. Voorheen was die Staatsdrukker die kontroleur. 

Bronne: 

  1. Internet: Wikipedia, WorldCat Goodreads 
  2. Die Onstaan en ontwikkeling van Sarie Marais as massatydskrif vir die Afrikaanse vrou; 
  3. Lizette Rabe; MA-verhandeling; Desember 1985; bladsy 13-14. 
  4. The world paper famine and the South African press 1938-1955; Adrian Hadley; South African Journal of Economic History 20:1; bladsy 47. 
  5. Perskor en sy voorgangers; Piet Ebersöhn; K'RANT: Geskiedenis. 
  6. Rooi Rose 'n vrou vir alle tye; Martie Pansegrouw; 
  7. Rooi Rose, April 2012|South Africa. Rooi Rose April 1942|Rooi Rose|29/05/2017 
  8. Nuwe tydskrifte en koerante -- Afrikanergeskiedenis; FAK. 
  9. Rooi Rose voorblaaie van die veertigs, vyftigs en sestigs|Rooi Rose
  10. In een aand: van skooldogter tot internasionale model; Joan Kruger; Rooi Rose; 25 September 1991.
  11. 'The economic lockdown has pushed another magazine division over the edge;' Tim Cohen; Caxton; Business Maverick; 5 Mei 2020. 
  12. Rooi Rose sluit na 78 jaar: Brief van die redaksie| Rooi Rose; 8 Mei 2020.
  13.  Aanbiedinge stroom in vir 'Rooi Rose;' Suzanne Venter; Rapport; 10 Mei 2020.